SWD-liga: grofgeskut het bewaarders aan flarde

dysseldorpDysselsdorp Rangers het Korrektiewe Dienste Saterdag oortuigend in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Karooliga geklop.

Rangers het 48-17 op Oudtshoorn gewen nadat hy rustyd 22-0 voor was.

Andries Jacobs, die sekretaris van die wenklub, sê Dysselsdorp se grofgeskut voorlangs was eens te veel vir die bewaarders.

Die voorspelers het ses van sy sewe drieë gedruk. Die agtsteman, Eric Campher, het `n driekuns behaal. Fergus Lewis (flank), Shavandre Briekwa (flank) en David Coerecius (stut) het die ander voorspelerdrieë gedruk.

Vernon Visagie (skrumskakel) was die enigste agterspeler wat agter die lyn kon kuier en hy het `n strafdoel en `n doelskop bygevoeg. Davestin Esau (heelagter) het vier drieë verdoel.

Jacobs sê Ceril Sibanda (stut), die twee flanke, Briekwa en Lewis, was die uitblinkers in die voorhoede.

“Agterlangs het Esau weer met stewige spel sy gebruiklike pond vleis na die tafel gebring.”

Dysselsdorp speel eerskomende Saterdag op sy tuisveld teen Calitzdorp. Die hekke open 12:00 met skolewedstryde op die voorprogram.

♦ Evergreens (Pacaltsdorp) is steeds ver voor in die Premierliga, met Barbarians (Mosselbaai), Progress (George) en Blanco wat die volgende drie plekke vul. Bridgton (Oudtshoorn) is die beste geplaaste buiteperd.

In die Presidenstliga keil Maori’s (George) en George mekaar in die Kusstreek op; Heidelberg en Riversdal Blues spook sake in die Langebergstreek uit; en Willing Hearts (Prins Albert), Spring Roses en Harlequins (albei Oudtshoorn) is die voorlopers in die Karoostreek.

Opgesomde punteleer –

Premierliga

Evergreens 46, Barbarians 33, Progress 27, Blanco 27, Bridgton 24, Crusaders (George) 22, Groot-Brakrivier 22, NMMU (Saasveld) 20, Silver Stars (George) 18, Swellendam 7.

Presidentsliga

Karoo

Willing Hearts 20, Spring Roses 19, Harlequins 18, Beaufort-Wes 16, Willowmore 15, Uniondale 15, All Blacks 13, Collegians (Oudtshoorn) 13.

Kus

Maori’s 26, George 25, Thistles (Plettenbergbaai) 22, Jaguars (Groot-Brakrivier) 22, Happy Hearts (Mosselbaai) 18, Bitou (Plettenbergbaai) 15, Eagle Stars (Sedgefield) 4, Mosselbaai 0.

Langeberg

Heidelberg 31, Riversdal Blues 26, Albertinia Rangers 24, Seagulls (Stilbaai) 16, Barrydale 16, Ladismith 14, Arrows (Slangrivier) 10, Zoar 1.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.