SWD-Liga: Groot-Brak byt nog `n grote

groot-brakrivierGroot-Brakrivier het Saterdag met nog een van die voorlopers in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga afgereken en klop hard aan die deur om in die halfeindronde te speel.

Hy het 27-21 met die naasvoorloper (voor Saterdag), Bridgton van Oudtshoorn, op dié se tuisveld afgereken, nadat Barbarians van Mosselbaai hom die vorige Saterdag ten prooi geval het.

Groot-Brak is nou vyfde op die punteleer, maar net vyf ligapunte agter die naasvoorloper, Progress van George.

Progress het Saterdag sy dorpsgenoot Silver Stars 22-3 geklop; die kampioen en Goue Bekerspan, Evergreens van Pacaltsdorp, het Swellendam 17-3 geklop; en Barbarians het Blanco 38-20 getroef.

Demi Rhoode, die spanbestuurder van Groot-Brakrivier, sê die span het die eerste helfte oorheers, maar kon nie afrond nie.

“Die spelers het telkemale foute begaan en minstens vier drieë weggegooi. As hulle hierdie kanse gebruik het, kon die telling baie anders gelyk het.”

Vir Groot-Brak het Ruben Loxson (regtervleuel) en Anvill van Wyk (losskakel) drieë gedruk. Die kaptein, Hen-linn Botha, het 17 punte aangeteken met `n doelskop en vyf strafdoele.

Rhoode sê Bridgton het drie drieë gedruk en by tye baie gevaarlik gelyk.

“Die wedstryd is baie goed deur die skeidsregter, Sammy Vorster, hanteer. Hy bewys elke keer dat hy onder groot druk koelkop bly.”

Anvill van Wyk was Groot-Brak se speler van die wedstryd.

“Hy gaan van krag tot krag op losskakel en is deesdae een van Groot-Brak se ysters.”

Die tweede spanne het 22-22 gelykop gespeel.

Rhoode sê dit was `n baie goeie wedstryd en die manne het mekaar behoorlik vasgevat.

Anroy Roelfse en Stefhan Muller het Groot-Brak se drieë gedruk. Ashwill Frans het vier strafdoele aangeteken.

Groot Brak se derde span het 24-21 gewen met elk van die spanne wat twee drieë aangeteken het.

Die speler van die wedstryd, Jacques Fillies (vleuel) se doel en vier strafdoele het sy span 19 punte besorg.

Hershille Williams (senter) het ook `n drie gedruk. Hy speel deesdae kookwater-rugby, maar het dit Saterdag bederf deur `n geel kaart te kry. Hy was boonop gelukkig dit was nie `n rooie nie.

Opgesomde punteleer –

Premierliga

Evergreens 66, Progress 48, Bridgton 46, Barbarians 45, Groot-Brakrivier 43, Crusaders 40, Blanco 32, Silver Stars 28, NMMU 23, Swellendam 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.