SWD-liga: Groot-Brak se beurt vir verrassing

groot-brakrivierDit was Saterdag Groot-Brakrivier se beurt om in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga te verras.

Hy het in die vierde plek ingeskuif deur Barbarians van Mosselbaai 29-18 te klop.

Silver Stars het `n heldhaftige vertoning teen die kampioen en Goue Bekerspan, Evergreens, gelewer. Die Pacaltsdorpers se klein oorwinning van 26-22 is in skrille kontras met sy gerieflike voorsprong van 17 punte op die spannestand nadat almal 14 wedstryde gespeel het.

Die agteros, Swellendam, wat aan die begin van die seisoen uit die Presidentsliga bevorder is, het insgelyks verbaas toe die naasvoorloper, Bridgton (Oudtshoorn), hom slegs 34-25 kon ondersit.

Progress (George) het redelik maklik 29-16 teen sy dorpsgenoot Crusaders gewen.

Demi Rhoode, die spanbestuurder van Groot-Brak, sê die kragmeting teen Barbarians was soos altyd `n baie taai stryd, maar Groot-Brak was hongerder om te wen.

“Die span van Mosselbaai het by tye onbeholpe gelyk met die geweldige druk wat Groot-Brak op hulle geplaas het.

“Op die verdediging was die tuisspan uitstekend. Ek dink nie Barbarians het dit verwag nie, miskien het hulle selfs die Brakkies onderskat.”

Rhoode sê Groot-Brak het vining in die eerste helfte toegeslaan en twee pragdrieë gedruk om 14-0 voor te loop.

“Die eerste drie is deur die jong flank Anwar Ohlson gedruk, wat deesdae baie goeie rugby speel. Groot-Brak moet dié speler oppas, hy gaan nog groot rugby speel.

“Die tweede drie is deur die binnesenter, Ashwin Meyer, gedruk nadat kwaai druk op Barbarians geplaas is,” sê hy.

“In die tweede helfte het die kaptein, Henlinn Botha, in die hoek vir ‘n drie oorgeduik.

“Daarna het die jong vleuel van Groot-Brak, Ruben Loxson, die haakskene gewys vir die spoedvrate van Barbarians en onder die pale gaan druk. Botha het die drie verdoel en daarna `n allemintige strafdoel van agter die middelyn oor te klits.”

Barbarians se tweede en derde span het hul wedstryde maklik gewen.

Kusliga (Oos)

Die voorperd Young Roses het getoon dat daar `n redelike kloof tussen hom en die res van die spanne in die Kusliga (Oos) is deur die tweede geplaaste span, Knysna United, Saterdag gemaklik 44-19 te klop.

Excelciors moes mooi trap teen Super Stars om 26-20 te wen; Black Lions het Perseverance 20-0 geklop; United Stars was 12-3 beter as Plett United; en Groter-Knysna het eweneens 20-0 teen Pro Stars gewen.

Kusliga (Suid)

In die Kusliga (Suid) het Hungry Lions, die voorloper, 30-10 teen Universals gewen. Sy tweede span het 18-5 gewen.

Wat die res van die wedstryde betref, het Black Warriors Titans 12-0 geklop; Proteas vir Winter Roses 20-0; en Shamrocks vir Black Dolphins 39-28.

Opgesomde punteleer –

Premierliga

Evergreens 62, Bridgton 45, Progress 44, Barbarians 40, Groot-Brakrivier 39, Crusaders 35, Blanco 32, Silver Stars 28, NMMU 22, Swellendam 12.

Kusliga (Suid)

Hungry Lions 57, Garden Route 45, Proteas 38, Black Warriors 37, Universals 34, Titans 22, Shamrocks 16, Black Dolphins 16, Winter Roses 2.

Kusliga (Oos)

Young Roses 60, Knysna United 56, Excelciors 53, Black Lions 41, Groter-Knysna 35, United Stars 35, Super Stars 27, Pro Stars 13, Plett United 10, Perseverance 9.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.