SWD-liga: Groot-Brakrivier klim twee sporte

groot-brakrivierGroot-Brakrivier het twee sporte op die punteleer van die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga geklim toe hy die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Saasveld-kampus Dinsdag geklop het.

Hy het 37-32 gewen en vyf drieë gedruk om van `n bonuspunt seker te maak.

Met 27 ligapunte – ewe veel as Progress (George) wat derde en Blanco wat vierde is – steek hy Bridgton (Oudtshoorn) en Crusaders (George) verby om van die sewende tot die vyfde plek te vorder.

Ondanks hul twee bonuspunte bly die studente agste met 22 punte, maar is steeds goed geplaas om met die voorlopers saam te praat.

♦ Demi Rhoode, die spanbestuurder van Groot-Brakrivier, sê die wedstryd teen die studente was kliphard en die telling was deurentyd in die weegskaal.

“Groot-Brak se voorspelers, met Bennie van Vuuren, aan die spits het die grondslag vir die sege gelê.

“Die studente het gesukkel om Van Vuuren in toom te hou en hy het drie pragdrieë gedruk. Hy is as die speler van die wedstryd aangewys vir sy kraglopies en rotsvaste verdediging.

“Justin Williams (stut) en Ashwin Meyer (senter) het die ander drieë gedruk. Deroy Rhoode het drie verdoel en twee strafdoele oorgeklits vir `n eie bydrae van 12 punte.”

Groot-Brak se tweede span het die NMMU 47-14 verslaan, en die studente se derde span het punte gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.