SWD-liga: halfeinders kry onverwagse teenspoed

groot-brakrivierTwee van verlede jaar se halfeinders het Saterdag onverwagse teenspoed in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga gekry.

Die grootste verrassing is waarskynlik Crusaders se sege van 9-8 oor verlede jaar se naaswenner, Progress. Groot-Brakrivier het op sy beurt Barbarians 10-5 geklop.

Die SWD-kampioen en Goue Bekerspan, Evergreens van Pacaltsdorp, het Silver Stars 29-17 geklop; en die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) is oplaas terug op die wenpad met sy sege van 45-34 oor Blanco. Die studente het sewe drieë teen ses gedruk.

In die ander wedstryd in die liga het Bridgton vir Swellendam 17-11 geklop.

♦ Demi Rhoode, die wedstrydsekretaris van Groot-Brakrivier, sê die kragmeting teen Barbarians op Mosselbaai, het `n taai stryd opgelewer.

“In die eerste helfte het Groot-Brak oorheers wat die lynstane, skrums en algemene spel betref. Ongelukkig kon die span nie méér punte aanteken nie.

“Groot-Brak se rotsvaste verdediging en foute deur die Barbarians het die oorwinning verseker.”

Rhoode sê die besoekers het veral in die laaste tien minute goeie karakter getoon, toe Barbarians op hul doellyn geboer het. Spelers wat goeie spel gelewer het, was Anvill van Wyk (binnesenter), Henn-Lin Botha (losskakel), Deroy Rhoode (skrumskakel) in die agterlyn en voorlangs Ronald Slabbert (flank).

“Niemand het egter beter gespeel as die agsteman, Grant Pockpas, nie.”

Van Wyk het Groot-Brak se drie gedruk, en Rhoode het dit verdoel en `n strafdoel behaal.

Barbarians se tweede span het 22-18 gewen.

Vir die verloorspan het Arden-Lee Meyer (losskakel), Ivan Meyer (plaasvervanger-flank) en Branville Abrahams (plaasvervanger-agsteman) elk `n drie gedruk. Reduaan Botha (heelagter) het `n strafdoel bygevoeg.

Groot-Brak se derdes het 26-8 gewen – met die heelagter Shandon Jacobs wat 11 van die punte met `n drie en drie doelskoppe aangeteken het. Die slot Bennie van Vuuren het twee en die agsteman Branville Abrahams (8) een drie gedruk.

Karooliga

♦ Willing Hearts van Prins Albert het Beaufort-Wes Saterdag op eie werf 29-28 in die Karooliga geklop om sy onoorwonne rekord die afgelope drie jaar teen dié span te handhaaf.

Die tweede spanne kon eenvoudig nie aan die gang kom nie en `n teleurstellende wedstryd het 3-3 gelykop geëindig.

Benjiman Goliath, Beaufort-Wes se voorsitter, berig die twee eerste spanne het goed teen mekaar opgeweeg en `n goeie kombinasie van hardlooprugby, afgewissel met taktiese skoppe waar nodig, het die tafel vir goeie opwindende rugby gedek.

“Dit is presies wat die tuisskare gekry het, veral nadat Fareed King vroeg in die eerste helfte `n uitstekende agterlynbeweging onder die pale gaan afrond het. Dis deur Bradley Magerman verdoel.

“Willing Hearts het later met `n strafdoel geantwoord om die telling 7-3  te maak.

beaufort-wes“Ná `n goeie skrum op die teenstanders se ingooi binne Willing Hearts se halfgebied, het Magerman rats die losbal voor die skrumskakel van Willing Hearts se neus weggeraap en `n paar man met sy bedrieglike systappe geklop voor hy Damien (Boots) Louw weggestuur het. Die slot het getoon hy het groot vaart en eweneens onder die pale gaan druk. Magerman het dit verdoel om die telling na 14-3 op te skuif.

Goliath sê swak aangeewerk en hanteerfoute op kritieke tye het voorkom dat die tuisspan sy voorsprong vergroot, en dit het Willing Hearts selfvertroue gegee.

“Hulle het hul pogings om te hardloop laat vaar en met hul swaarder agttal begin speel. Dit het vrug afgewerp en Beaufort-Wes moes walgooi voor sy doellyn.

“Laasgenoemde is herhaaldelik gestraf en was gelukkig om nie `n geel kaart of selfs `n strafdrie af te staan nie.

“Net voor rustyd het Willing Hearts `n oorstootdrie gedruk en die spanne het met die telling 14-8 gaan water drink.”

Goliath sê Willing Hearts het die tweede helfte begin waar hy die eerste geëindig het, die pap dik aangemaak en nog `n oorstootdrie gedruk, wat verdoel is en hom die eerste keer 15-14 laat voorloop het.

“Die tuisspan se giftige angel, sy agterlyn het eenvoudig nie die bal gekry nie, maar met die bietjie wat hul wel gekry het, het Magerman en Iron April hul teenstanders in die lug laat gryp. Swak ondersteuning het egter punte verhoed – iets wat die tuisspan later duur te staan laat kom het.

“Toe die spel begin uitrafel, het Beaufort-Wes nog twee vinnige verdoelde drieë gedruk, een deur Ashley Speelman, wat `n uitstekende hoekskop letterlik millimeters voor die doodlyn gedruk het; die ander deur Cameron Hendriks.

”Met die telling 28-15, `n bonuspunt verseker en speeltyd min, het dit gelyk of Beaufort-Wes die wedstryd beklink het. Sy agttal is egter herhaaldelik en genadeloos gestraf, wat die besoekers al hoe nader aan die doellyn laat kruip het.

“`n Strafdrie vir onwettige skrumwerk, wat verdoel is, het die tuisspan se voorsprong tot 28-22 laat krimp – en toe `n geel kaart een van Beaufort-Wes se stutte van die veld haal, het Willing Hearts dit behoorlik uitgebuit,” het Goliath Pale Toe! laat weet.

Die tuisspan se doppie is finaal geklink met `n drie in die linkerhoek wat komkommerkoel verdoel is en Willing Hearts met 29-28 laat wen het.

Beaufort-Wes se uitblinkers was Magerman (die speler van die wedstryd), April, King, Aswin May en Damien Meyer.

Kusliga (Suid)

♦ Die Proteas is terug op die wenpad nadat hulle vanweë swak dissipline twee keer agtereenvolgens slae gekry het.

Die span van Ruiterbos het `n begeesterde Shamrocks Saterdag op Buisplaas 28-26 geklop.

Clive Uithaler, die voorsitter van Proteas, sê die span met sy gesonde balans tussen jongelinge en ervare spelers het goed saamgespeel en die tuisspan kon nie vir hulle kers vashou nie.

“Die Proteas se jong, onervare agterspelers verdien `n groot pluimpie. Hul aanvalswerk was eenvoudig vlymskerp.

“Brain Goliath, die losskakel was op sy stukke en die res van die lyn vuur en vlam. Grant Uithaler, Redeon Manneville en Dillion Fielies het skitterend gekombineer.”

Uithaler sê die hele agterlyn is nog o.21 en hul rugbyloopbane lê oop voor hulle.

“Manneville, wat twee vinnige drieë in die eerste helfte gedruk het, was die speler van die wedstryd. Ná sy kordaatstuk was die skrif vir Shamrocks aan die muur.”

Fielies het die ander een onder die pale gedruk.

Die ander punte is deur Brendon Scheeprs, die heelagter, met twee doelskoppe en vier strafdoele bygevoeg.

Uithaler sê `n gebrek aan dissipline het Shamrocks duur te staan gekom.

“Proteas benader elke wedstryd soos `n eindstryd en daar sal hard gewerk word om nie fokus te verloor nie.”

Pro Stars SWDKusliga (Oos)

♦ United Stars het Pro Stars 16-5 op Geelhoutboom geklop.

Bennie July, die sekretaris van Pro Stars, laat weet die eerste helfte is deur Pro Stars oorheers, maar die span kon nie die druk in punte omskep nie.

“Verkeerde keuses op kritieke tye het die span verskeie geleeenthede ontneem. Besit is telkemale doelloos weggeskop, of die bal is uitgegee waar dit liewer behou moes word.

“Die skeidsregter se fluitjie is 12 keer in die eerste helfte teen Pro Stars geblaas, wat die momentum erg ontwrig het.”

July sê daar was ook talle geleeenthede binne trefafstand vir die besoekers, wat nie benut is om punte aan te teken nie.

“United Stars het ná swak verdediging `n drie teen die verloop van die spel gedruk. Dis verdoel, en die span van Geelhoutboom het drie strafdoele deur die pale gejaag om rustyd 16-0 voor te loop.

“Pro Stars het met rustyd sy volle bank opgestuur en dit het nuwe energie gelewer. Dis onderstreep deur Alcino Davids se drie na 1n goeie hand-tot-handbeweging.”

July sê die flank Stanton Adams was Pro Stars se grootste uitblinker.

“Hy het met hart en siel verdedig en die bal deurentyd uitstekend versprei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.