SWD-liga: hoop flikker op vir NMMU se rugby

Die Nelson Mandela- Metropoliaanse Universiteit (NMMU) se George-kampus het Saterdag op Saasveld die hoop laat opflikker dat hy weer ʼn krag in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga kan word.

Hy het die voorloper, Crusaders van George, bo alle verwagting deeglik vasgevat en dié se voorspelde sege tot 12-10 beperk.

Barbarians van Mosselbaai, Progress van George en Bridgton van Oudtshoorn het hul tog boontoe voortgesit.

Die Mosselbaaise span het Maori’s van George met 44-31 ondergesit; Progress het Silver Stars, eweneens van George met 20-12 geklop; en Bridgton het Blanco met 43-22 slae gegee.

Die verdedigende kampioen, Evergreens van Pacaltsdorp, het Groot-Brakrivier oortuigend met 56-32 geklop.

♦ Edward Maart, die sekretaris van Barbarians, sê die klub se tweede span het ook met 33-0 en die derde met 27-17 gewen.

Kervin Taute (regtervleuel), Marshall Daniels (buitesenter), Macdilen Saayman (losskakel), Ralton October (skrumskakel), Winston Seconds (agsteman) en Hendrik Kriek het die eerste span se sewe drieë gedruk.

Saayman het 19 punte aangeteken deur ook vier doelskoppe en twee strafdoele deur die pale te jaag.

Thurston Amsterdam (slot) is as die speler van die wedstryd aangewys.

Driekuns

Vir die tweede span het Chester Mitchell (regtervleuel) en Curtley Kiewiet (skrumskakel, twee) naas ʼn strafdrie gedruk.

Teswin Sampson (losskakel) het met twee doelskoppe en drie strafdoele geslaag.

Leeroy Muller (regtervleuel) het ʼn driekuns vir die derde span behaal, en Clinton Seconds (agsteman) en Xavien Plaatjies (flank) is elk een keer oor die doellyn.

Leolan Mondoe, die plaasvervanger-heelagter, het een verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.