SWD-liga: kampioen Evergreens haal in op leer

Die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga is ver gevorder, maar uiteindelik vanjaar is die bond se kampioen en Goue Bekerspan, Evergreens, weer boaan die punteleer.

Hy het Saterdag met 41-0 teen Blanco gewen om weer die voortou te neem.

Progress is nou tweede nadat hy met 34-3 teen Crusaders gewen het. Laasgenoemde wat lank voorgeloop het, is nou derde.

Mosselbaai Barbarians moes hard werk om die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se George-kampus met 44-42 te klop, en is vierde.

In die ander wedstryde het Silver Stars met 33-26 teen Groot-Brakrivier gewen en Bridgton het Maori’s 23-17 getroef.

♦ Edward Maart, die sekretaris van Barbarians, sê uiters swak verdediging het byna daartoe gelei dat die Mosselbaaise span stert tussen die bene huiswaarts gekeer het, maar ʼn moeilike strafdoel onder groot druk deur Ralton October het dit voorkom.

Hy sê die geweldige skuins skop uit die regterkantse hoek binne die 22 m-gebied van NMMU het die plaasvervanger-losskakel ook die toekenning as speler van die wedstryd in die sak gebring. October het ook met ʼn doelskop geslaag.

Wahlon Anthony (heelagter), Marshall Daniels (binnesenter), Jose Petersen (linkervleuel), Macdilen Saayman (losskakel), Lohan Potgieter (flank), Shane Olckers (plaasvervanger-slot) en Curtley Kiewiet (plaasvervanger-skrumskakel) het elk ʼn drie vir die wenspan gedruk, maar Morné Buis (skrumskakel) kon net twee verdoel.

Maart sê die klub se ander twee spanne het met gemak ʼn baie goeie grondslag gelê waarop die eerstespan net die afronding moes doen. Die tweede het met 73-12 en die derde met 64-0 gewen.

Heelagter druk vier

Jerome Fillies (heelagter), die speler van die wedstryd, het vier drieë vir die tweedespan gedruk, en Francois Smith het 21 punte met ʼn drie en agt doelskoppe behaal.

Llewellyn Lottering (buitesenter, twee), Daimon Simons (regtervleuel), Martino Adonis (slot), Wayne London (slot) en Curtley Kiewiet (plaasvervanger-skrumskakel) het die res van die span se drieë gedruk. Dayle Brandt (loskopstut) het ook met ʼn doelskop geslaag.

Leolan Mondoe (heelagter) het drie drieë vir die Barbarians se derde span gedruk, en is as die speler van die wedstryd aangewys.

Denver Jacobs (agsteman) en Alwill Prinsloo (slot) het elk twee keer agter die doellyn gaan kuier. Changlyn van Zyl (regtervleuel), Cody Cairncross (buitesenter), Leeroy Muller (linkervleuel) en Fernhaldt Scheepers (slot) het vir die ander drieë gesorg.

Lohane Kiewiet (losskakel) het met vier en Cairncross met een doelskop geslaag.

♦ Imran Wesso, die woordvoerder van Groot-Brakrivier, sê Silver Stars het vriend en vyand verras deur op sy tuisveld met die Brakke af te reken.

“Die tuisspan het die telling vinnig geopen deur ʼn drie onder die pale te druk en dit te verdoel (7-0).

“Groot-Brakrivier het met ʼn strafskop deur Henn-lin Botha geantwoord (7-3), waarna Silverstars ʼn verdoelde drie onder die pale gedruk het (14-3). Botha het nóg twee strafskoppe oorgeklits om die telling op 14-9 te staan te bring.

“Hierop het die span van Rosemore nog ʼn drie gedruk en dit verdoel (21-9).

“Kort voor rustyd het die Brakke met ʼn drie van hul eie deur die buitesenter, Botha, wat die lyn reguit gemaak het, en self verdoel het, om te gaan rus met die telling op 21-16.

Wesso sê Anwar Ohlson het vroeg in die tweede helfte ʼn hand-tot-handbeweging afgerond deur ʼn man te klop, sterk te nael en met drie spelers op sy rug in die hoek te druk (21-21).

“Silver Stars het met nog ʼn drie teruggeslaan (26-21), voordat Anville van Wyk, Groot-Brak se losskakel, gaan druk het (26-26).

“In die laaste minuut van die wedstryd het Brak uit sy eie halfgebied probeer aanval, die bal is deur die tuisspan onderskep, en hy het gaan druk en verdoel (eindtelling 33-26).”

Wesso loof Silver Stars vir die hardlooprugby wat sy agterlyn sowel as voorspelers opgedis het.

Individuele briljantheid

“Groot-Brakrivier het die skrums oorheers, maar kon nie gesag in die losgemale afdwing nie. Die Brakke het baie verdedigingsfoute op kritieke oomblike begaan, en op die aanval was hulle altyd onseker.

“Die span se punte is met individuele briljantheid aangeteken.”

Groot-Brakrivier se tweedespan het met 19-12 en die derde met 36-11 gewen.

Jeromique Wesso, Sergei Deysel en Hugh Minnies het die tweedespan se drieë gedruk, en Ashwill Frans en Deaven Carelse het elk een daarvan verdoel.

Stefpan Muller, Winrich Kennedy, Hugh Minnies, Riaan Scheepers, Ridge Nefdt en Bradley Volkwyn het vir die dede span gedruk. Reduaan Botha het met drie doelskoppe geslaag.

Opgesomde punteleer –

Premierliga

Eerstespanne

Evergreens 29, Progress 28, Crusaders 25, Barbarians 25, Bridgton 23, Silver Stars 19, Groot-Brakrivier 17, Blanco 12, NMMU 10, Maori’s 9.

Tweedespanne

Progress 27, Groot-Brakrivier 26, Bridgeton 24, Crusaders 23, Barbarians 22, Evergreens 19, Silver Stars 16, Blanco 15, Maori’s 6, NMMU 1.

Derdespanne

Barbarians 29, Groot-Brakrivier 28, Evergreens 25, Crusaders 24, Bridgton 22, Progress 18, Blanco 17, Silver Stars 11, Maori’s 5, NMMU 0.

Presidentsliga (Karoo)

Eerstespanne

Willing Hearts 28, Harlequins 24, All Blacks 19, Spring Roses 15, Beaufort-Wes 14, Willowmore 14, Collegians 12, Dysselsdorp 10, Uniondale 2.

Tweedespanne

Spring Roses 23, Willing Hearts 22, Willowmore 20, Beaufort-Wes 17, Collegians 16, Harlequins 12, All Blacks 11, Uniondale 6, Dysselsdorp 2.

Presidentsliga (Kus)

Eerstespanne

George 24, Eagle Stars 18, Jaguars 18, Happy Hearts 16, Bitou 13, Young Roses 12, Hungry Lions 11, Thistles 10, Garden Route 10.

Tweedespanne

Eagle Stars 24, Jaguars 22, Young Roses 19, Bitou 18, George 16, Hungry Lions 12, Garden Route 12, Happy Hearts 3.

Presidentsliga (Langeberg)

Eerstespanne

Heidelberg 26, Alberinia Rangers 24, Zoar 23, Ladismith 15, Arrows 15, Riversdal-dorp 14, Riversdal Blues 13, Seagulls 10, Black Birds 2.

Tweedespanne

Heidelberg 29, Riversdal Blues 27, Albertinia Rangers 20, Seagulls 18, Arrows 18, Riversdal-dorp 10, Ladismith 5, Black Birds 4, Zoar 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.