SWD-liga: kampioen se uitdagers al astranter

evergreens-logoDie uitdagers van die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga-kampioen, Evergreens van Pacaltsdorp, raak des te astranter.

Sy vorige wedstryd teen Blanco United het hy met `n enkele punt gewen. Vandeesweek kon hy net 17-10 wen teen Crusaders, een van verlede jaar se agterosse – en dit was boonop reeds die rustydtelling!

`n Woordvoerder van Evergreens sê die wedstryd was deurentyd in die weegskaal en die Pacaltsdorpers se goeie verdediging in die tweede helfte het verseker dat hulle wen.

Vir die wenspan het Anvor Prins (losskopstut) en Freginald Africa (agsteman) goed vertoon. Agterlangs was Joseph Fortuin (vleuel) telkens gevaarlik met die bal in die hande en het goed verdedig.
Africa en Riaan Tromp het Evergreens se drieë gedruk en C-Than Moos het sewe punte bygevoeg deur albei te verdoel en met `n strafdoel te slaag.

Pro Stars SWDKusliga

♦ In die Kusliga het Knysna Woensdag Pro Stars (Pacaltsdorp) 8-3 op Rosemore geklop. Laasgenoemde was rustyd 3-0 voor.

Bennie July, die sekretaris van Pro Stars, sê die kragmeting was van meet af aan kliphard en genadeloos.

“Die voorspelers het mekaar fisiek opgedreun. In dié opsig was Knysna se voorry uitmuntend, veral in die skrums. Hulle het Pro Stars telkemale meters ver teruggestoot en dit het vasberade verdediging gekos om hulle van die doellyn weg te hou.

“Pro Stars se dodelike agterlyn het in weerwil van die besoekers se verdeging na willekeur gebreek, maar kon eenvoudig weens gebrekkige ondersteuning nie deurkom nie.”

July sê Pro Stars het in die tweede helfte met meer oorgawe gespeel en veel beter in die skrums gevaar, maar Knysna het kort ná rustyd `n oorstootdrie gedruk en later `n strafdoel bygevoeg om 8-3 te wen.

Die 19-jarige Luciano Smith was ongetwyfeld die verloorspan se beste speler, sê July.

“Sy aanvalllende spel en bedrieglike systap het die besoekers telkemale in die lug laat gryp.

“Voor het niemand beter gespeel nie as die agsteman, Merviano Sedras. Hy was `n kolos in die losspel en het soos `n vleuel genael wanneer hy die geleentheid gekry het.

Alcino Davids het Pro Stars se enigste punte met `n strafdoel behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.