SWD-liga: Kan NMMU die ondenkbare regkry?

Die Suidwestelike Distrikte se Premierliga is nie net een van die gedugste klubligas in die land nie, maar gewis die onvoorspelbaarste, en een waar reputasies hoegenaamd nie tel nie.

Dis dié dat ʼn mens wonder of die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se George-kampus dalk Saterdag die ondenkbare kan regkry om die voorloper, Crusaders, op Saasveld te klop.

Die studente was ʼn seisoen of wat gelede nog onder die bond se vier topklubs, maar het sedertdien uitgesak en is die agteros nadat hulle vanjaar nog nie ʼn enkele uit ses wedstryde kon wen nie.

Die NMMU het wel daarin geslaag om sewe bonuspunte in die ses wedstryde te verdien.

Die aandag in die bond sal egter veral op Rosemore gevestig wees, waar die tweede geplaasde Progress teen die vierde geplaasde Silver Stars kragte meet.

Albei het eweveel ligapunte (14), maar Progress het ʼn beter batige punteverskil.

Die wedstryd tussen die verdedigende kampioen Evergreens (ook met 14 ligapunte) en Groot-Brakrivier op Pacaltsdorrp, en die een tussen Blanco en Bridgton op Blanco kan albei strawwe botsings oplewer.

Barbarians van Mosselbaai behoort sy wedstryd teen Moari’s op Borcherds te wen, maar wat vir die NMMU geld, is insgelyks op Maori’s van toepassing.

Opgesomde punteleer –

Premierliga

Eerste spanne: Crusaders 20, Progress 14, Evergreens 14, Silver Stars 14, Blanco 12, Barbarians 11, Groot-Brakrivier 11, Bridgton 9, Maori’s 7, NMMU 7.

Tweede spanne: Crusaders 18, Groot-Brakrivier 16, Progress 14, Silver Stars 14, Blanco 11, Bridgton 10, Evergreens 10, Barbarians 7, Maori’s 6, NMMU 1.

Derde spanne: Blanco 16, Crusaders 15, Groot-Brakrivier 14, Barbarians 14, Evergreens 14, Silver Stars 10, Progress 8, Bridgton 8, Maori’s 5, NMMU 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.