SWD-liga: Kleinboet staan Leegan se skoene vol

evergreens-logoSy kleinboet staan nou die begaafde Leegan Moos se skoene by Evergreens behoorlik vol en het Saterdag 21 van sy span se 34 punte teen Barbarians van Mosselbaai aangeteken.

Die span van Pacaltsdorp het die kragmeting 34-18 gewen, met die heelagter C-Than Moos wat `n goeie wedstryd beleef en twee drieë gedruk het, aangevul met akkurate skopwerk wat vier doelskoppe en `n strafdoel opgelewer het.

Sy ouboet, Leegan, was een van die spelers wat verlede jaar getoon het `n man kan hom in die beroepsera nog uit klubrugby uit in `n provinsiale span inspeel.

In die ander Premierliga-wedstryde in die Suidwestelike Distrikte het Progress van George die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se George-kampus 26-6 geklop; Blanco United het Bridgton van Oudtshoorn 12-6 getroef; Crusaders het die nuweling Swellendam 21-9 onder gesit; en Groot-Brakrivier en Silver Stars het 29-29 gelykop gespeel.

♦`n Woordvoerder van Evergreens sê goeie samespel tussen voor- en agterspelers asook die span se vermoë om geleenthede in punte te omskep het die deurslag vir Evergreens gegee.Die impakspelers het ook waarde tot die uitslag toegevoeg.
Benewens Moos het die slot Llewelyn Treunicht beïndruk met sy werkverrigting. Hy is goed bygestaan deur Riaan Tromp (flank) en Isaac Treunicht (agsteman). Marshall Abrahams (plaasvervanger-flank) het ook groot impak gemaak.

Agterlangs het Deon Stoffels (senter) `n barshou gespeel en is hy as die speler van die wedstryd aangewys.

Divandré Strydom en Cheslin van Rayner het Evergreens se ander drieë gedruk, en Eugene (Bors) Heneke het `n skepdoel behaal.

groot-brakrivier♦ Duane Singrew, die voorsitter van Silver Stars, laat weet Neilon Scott het twee keer vir die klub teen Groot-Brakrivier gaan druk. J Olivier het Stars se ander drie gedruk.

Henrico Stal was in die kol met vier strafdoele en `n doelskop.

“Silver Stars sou gewen het as Stal sy skopskoen aangehad het. Hy het met vyf strafskoppe pale toe misluk.

Singrew sê albei spanne het goeie hardlooprugby opgedis.

Die rustydtelling was 23-22 in Stars se guns.

Groot-Brak se tweede span het 15-8 (rustyd 8-8) en die derde 31-0 (rustyd 7-0) gewen.

♦ Demi Rhoode, Groot-Brakrivier se wedstrydsekretaris, sê die span se dissipline was baie swak.

Die voorspelers het weer eens puik vertoon, met Deroy Rhoode wat as die speler van die wedstryd aangewys is.

young roses swdKusliga

♦ Young Roses van George het met `n stewige oorwinning van 33-10 (rustyd 14-0) oor Pro Stars van Pacaltsdorp in die Kusliga weggespring.

John Bruinders, die sekretaris van Young Roses, sê die span se agsteman en kaptein Heinrich Mckenzie was een van die grootse uitblinkers en het drie drieë gedruk.
Marco Jantjies, `n stut van Young Roses, het ook ‘n goeie wedstryd gehad, en die senter Wayne van Wyk se skopvoet was deurslaggewend.
Jantjies en G Plaatjies het Roses se ander drieë gedruk, en Van Wyk het met vier doelskoppe geslaag.

♦ Bennie July, die sekretaris van Pro Stars, sê te veel eerste duikslae wat verbrou is, was Stars se ondergang. Dit het `n paar paselladrieë aan die teenstanders besorg.

“Daar was ook `n paar gevalle waar die span verkies het om met die bal te probeer hardloop eerder as om pale toe te skop en seker van die punte te maak.

“Roses se veel swaarder agttal het ons onder druk geplaas sodat ons agterlyn nie goeie eerstefasebesit gekry het nie.

“Hul losvoorspelers het as eerste ontvangers van die bal opgetree om ons agterspelers in te trek en ons kwesbare verdediging bloot te lê.”

Pro Stars SWDJuly sê Stars se kaptein en vaskopstut, Charlton van Niekerk, het sy hart uitgespeel. Hy het die bal begeesterd gedra en soos `n besetene gewerk om omkeerbesit op die grond te bewerkstellig en te lak.

Die 19-jarige flankvonds Ruaan Cornelius het hom bekwaam bygstaan en sal vorentoe nog veel vir die span beteken.

In die agterlyn het die buitesenter, Alcino Davids, `n speler-van-die-wedstrydvertoning gelewer. Hy het sterk gehardloop, meters ver veld gewen en die teenstanders op die verdediging in die grond ingeboor.

Kort op sy hakke was die 18-jarige Imogan Smith wat sy buiging vir die span met `n pragdrie gevier het. Hy het vier verdedigers gefnuik voor hy in die hoek gedruk het.

Davids het die drie verdoel en L Smith het met `n strafdoel geslaag.

♦ Die strafste wedstryd van die Kusliga se eerste ronde was gewis die een tussen die Mosselbaaise spanne Protea en Titans wat eersgenoemde 14-11 gewen het.

Clive Uithaler, die voorsitter van die Protea, sê samespel tussen voor- en agterspelers het sy span bo laat uitkom.

Die klub is geleë op Ruiterbos aan die voet van die Robinsonpas in die distrik Mosselbaai.

Uithaler sê Protea het goeie balbesit gekry en sy kanse benut en in punte omskep.

“Die uitblinkers was die agsteman, Isaac Scheepers, die stut Ivan Scheepers, en die kaptein, Jean Balie.”

Ivan Sheepers het die wenspan se drie gedruk, en Grant Uithaler het drie strafdoele behaal.

Ander uitslae –

Kusstreek (Oos)

United Stars 38, Perseverance 5; Black Lions 23, Knysna United 8; Super Stars 17, Plett United 0; Excelsiors 15, Groter-Knysna 0.

Kusstreek (Suid)

Hungry Lions 48, Winter Roses 0; Universals 23, Black Dolphins 3; Garden Route 18, Black Warriors 0.

Opgesomde punteleer –

Kusstreek

Oos: Young Roses 5, United Stars 5, Black Lions 4, Super Stars 4, Excelsiors 4, Groter-Knysna 0, Knysna United 0, Perseverance 0, Plett United 0, Pro Stars 0.

Suid: Hungry Lions 5, Universals 5; Garden Route 4, Proteas 4; Titans 1; Black Warriors 0, Winter Roses 0, Black Dolphins 0, Shamrocks 0 (nog nie gespeel nie).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Witbooi ·

Baie goeie kommentaar van die bogenoemde klubs. Bou voort op die goed wat u hulle vir die gemeenskappe doen!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.