SWD-liga: kwaai kat in Premierliga-duiwehok

bridgton

Die kat het Saterdag sommer kwaai tekere gegaan in die duiwehok van die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga.

Dit was die sewende geplaasde Bridgton beskore om die kampioen en Goue Bekerspan, Evergreens van Pacaltsdorp, se segetog te stuit. Die Oudtshoornse span het 23-22 gewen ondanks die titelhouer se vier drieë teen een.

Swellendam, die nuweling in die reeks en voor Saterdag segeloos, het verlede jaar se naaswenner, Progress, wat vyfde gelê het 17-5 uitgestof.

Blanco (agste) het Groot-Brakrivier (tweede) 18-10 geklop; en Silver Stars (negende) het die sesde geplaasde Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (sesde) 35-26 geklop.

Al wat nie juis verras het nie, is Barbarians se sege van 20-6 or Crusaders.

Dis onwaarskynlik dat daar `n mededingender klubliga in die land bestaan.

♦ Die slae teen Blanco is Groot-Brakrivier se eerste nederlaag vanjaar.

Demi Rhoode, Groot-Brak se wedstrydsekretaris, sê die span kan net homself daarvoor verkwalik.

groot-brakrivier“Swak spel, geen afronding nie, swak verdediging en geen vuur nie was die oorsaak van die nederlaag.

“Blanco het baie goed gespeel en die wil was daar om te wen. Die telling kon selfs groter gewees het.”

Daar was min uitblinkers aan Groot-Brak se kant, maar Deroy Rhoode het al die span se punte aangeteken: `n drie, doelskop en `n strafdoel.

Groot-Brak se tweede span het 12-10 gewen en die derde span het vier drieë gedruk en `n bonuspunt met sy sege van 26-10 verdien.

Dyssseldorp aarde toe gebring

♦ Dysselsdorp Rangers het Saterdag hard aarde toe gekom, toe Young Leaves van Waboomskraal hom naelskraap 17-15 in `n Karooliga-wedstryd geklop het. Die rustydtelling was 10-10.

Andries Jacobs, die sekretaris van Dysseldorp, sê Rangers se span het agt veranderinge getoon van die span wat die vorige Saterdag teen Oudtshoorn gewen het.

“Dysselsdorp se eerste drie is deur die agtsteman Eric Campher gedruk,” berig hy.

“Hierna het Young Leaves ook `n drie aangeteken, waarna Dysselsdorp se Beandre Botha (slot) ook `n drie gedruk het om Dysselsdorp 10-5 te laat voorloop.

dysseldorp“Kort voor rustyd het Young Leaves die telling met nog ‘n drie gelykop gemaak.”

Jacobs sê dit het gelyk of Dysselsdorp in die tweede helfte met die wedstryd gaan weghardloop toe Jason Matiwane (vleuel) gaan druk het.

“Dysselsdorp het verskeie kanse op drieë met swak aangeë en power afronding deur die vingers laat glip.

“Young Leaves het hom stelselmatig in die wedstryd gevestig en die wendrie in beseringstyd onder die pale gedruk. Die doelskop was in die kol.”

Jacobs sê daar was die keer maar min uitblinkers aan Dysseldorp se kant.

“Slegs Davestine Esau (heelagter), Matiwane en Edwin Briekwa (senter) het die oog gevang.”

Rangers se tweede span het Young Leaves se tweede oortuigend 31-12 geklop.

Nes hulle later vir die eerste span gedoen het, het die jongelinge Matiwane (wat `n driekuns behaal het) en Botha die tweede span se drieë gedruk.

Dysselsdorp speel eerskomende Saterdag op sy tuisveld teen Kango United.

Pro Stars SWDPro Stars leer rugbyles

♦ Pro Stars van Proteapark het Vrydag op Rosemore `n rugbyles geleer toe `n begeesterde Groter Knysna hom 24-14 in die Kusliga geklop het.

Bennie July, Pro Stars se sekretaris, sê die span het binne twee minute bloed geruik en puik agterspel met `n drie deur Alchino Dawids onder die pale afgerond. I Smith het dit verdoel.

“Dit het gelyk na `n voorteken van wat wag, maar Knysna het gewys hoekom hy tans vierde op die punteleer is, en Pro Stars kon geen verdere punte in die helfte aanteken nie.

“Knysna het die bal voor begin hou en net wanhopige verdeding het hulle verhoed om punte aan te teken. Die nat bal het ook bietjie glans uit die aanval gehaal en aanslane was volop.”

Aangespoor deur `n fanatiese skare het die span van Proteapark vroeg na rustyd weer gaan druk toe sy puik linkervleuel, Sheldon Melville, die bal deurgeskop en sy vaart en krag hom onder die pale laat druk het. Dié drie is deur Dawids verdoel.

“Toe slaan Knysna egter hard terug met twee vinnige drieë,” sê July. “Pro Stars het van `n strafskop in sy eie 22-m-gebied gehardloop en tot op die middellyn gevorder, waar besit omgekeer is en Knysna deur 16 fases volhard en onder die pale gaan druk het.

“Hulle het die oorwinning stylvol met `n klassieke skepdoel in die laaste minuut verseël.”

July sê Pro Stars se skrumskakel, Sheen Kiewits, was ongetwyfeld die beste speler op die veld.

“Hy dikteer die spel pragtig, sy balverspreiding is puik en die kalmerende invloed wat hy op die voorspelers uitoefen is van onskatbare waarde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet ·

July wat die sekretaris van die verloorspan – Proteapark – is en met 24-14 verloor, het te vertelle dat Proteapark se skrummie die beste speler op die veld was.
Redelik belaglik om die minste te sê. Om sulke onsin nog in ‘n berig te herhaal, is selfs meer belaglik.

Wim van der Berg ·

Huldig die skrywer dieselfde beskouing oor die Georgiese kaptein Mamuka Gorgodze se aanwysing as speler van die wedstryd toe die All Blacks Georgië 43-10 in die toernooi om die Wêreldbeker geklop het, en die wêreldwye beriggewing daaroor?

Piet ·

Huh!
Wat die motivering tydens die Wêreldbeker toernooi sou wees en waarskynlik om heel ander redes as die Proteapark-grap plaasgevind het, sou ek beide gevalle as koddig – om dit baie sagkens te stel – beskou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.