SWD-liga: lang messe vroeg-vroeg uitgepluk

SWD Arende - logoDie lang messe word sommer vroeg-vroeg uitgepluk in die Suidwestelike Distrikte se hoogs mededingende Premierliga wat op 27 Februarie al afskop.

Die SA Rugbyunie (Saru) het al die bonde versoek om hul ligas teen 13 Augustus af te handel met die oog op die reeks om die Goue Beker (GB) se uitspeelwedstryde later vanjaar, en Duane Heath, die GB se projekbestuurder, sê die SWD verdien `n pluimpie vir die wyse waarop hy aan die versoek voldoen het.

Die meeste ander klubligas, insluitende die SWD se Presidentsliga, begin eers in April.

Die geesdrif vir klubrugby in die Suid-Kaap, met sy uiters mededingende ligas, loop reeds hoog en dis te verstane as `n mens na die ligabepalings kyk.

Met die groot kanonne van verlede jaar wat mekaar binne die eerste drie Saterdae aan die keel vat, sal `n mens vroeg al `n goeie aanduiding kry hoe hul kragte met verlede jaar vergelyk.

Die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Georgekampus, wat verlede jaar derde was, word letterlik aan die diep kant ingegooi met sy eerste wedstryd teen die kampioen, Evergreens van Pacaltsdorp, en dan teen die naaswenner, Progress van George, `n week later. Dis boonop albei wegwedstryde.

Evergreens speel die tweede Saterdag al teen die vierde semifinalis van verlede jaar, Barbarians van Mosselbaai.

Nadat Progress en Barbarians die derde Saterdag kragte gemeet het, sal dit duidelik wees hoe dié vier spanne vanjaar teen mekaar opweeg.

Swellendam, die nuweling in die Premierliga, sal uit die staanspoor sy staal moet wys wanneer hy in sy eerste wedstryd teen Crusaders van George, die agteros van verlede jaar se oorblywende spanne in die senior liga, te staan kom.

Mosselbaai en Uniondale wat hul Premierligastatus verloor het, maak hul toetrede tot die Presidentsliga teen van die sterker spanne in hul afdelings.

Mosselbaai (Kus) speel sy eerste wedstryd teen Thistles van Friemersheim, en Uniondale (Karoo) teen Harlequins van Oudtshoorn.

In die Langebergstreek van die Presidentsliga wag daar op 19 Maart `n uitspeelwedstryd tussen Ladismith en Buffaloes van Buffeljagsrivier om `n plek in die liga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.