SWD-liga: nog `n noue ontkoming vir kampioen

groot-brakrivierDis nou maar eenmaal so dat die meeste klubs `n tikke ekstra insit wanneer hulle teen `n kampioen speel, en dis dalk te meer so in die erg mededingende Premierliga van die Suidwestelike Distrikte (SWD).

Evergreens van Pacaltsdorp, die bond se kampioen en Goue Bekerspan, moes Saterdag weer alles in die stryd werp om Crusaders (George) 34-32 te klop.

In die ander wedstryde in die liga het Bridgton (Oudtshoorn) vir Silver Stars (George) 34-21 geklop; Progress (George) het Blanco 25-14 getroef; en Groot-Brakrivier het Swellendam 30-19 getem.

Demi Rhoode, die wedstrydsekretaris van Groot-Brak laat weet die span se losvoorspelertrio het “gekook” en die oorhand in die los gehad.

Benji Muller (linkervleuel), Anvill van Wyk (losskakel), Anwar Ohlson (flank) en Cassuon Oktober (loskopstut) het die wenspan se drieë gedruk. Die heelagter en kaptein, Henn-linn Botha, het twee doelskoppe en twee strafdoele oorgeklits.

Groot-Brak se tweede (28-0) en derde span (25-5) het ook bonuspunt-oorwinnings behaal.

Kusliga

In die Kusliga is die spannendste rugby in die Suidstreek gespeel waar Proteas net-net 18-16 teen Shamrocks kon wen, en Universals en Black Warriors 6-6 gelykop gespeel het.

Dié streek het egter ook twee wegholseges opgelewer met Hungry Lions wat Black Dolphins 76-3 verniel het; en Garden Route wat Winter Roses 53-15 oorheers het.

In die Oosstreek het sake bra voorspelbaar verloop.

Young Roses het Perseverance 40-7 laat les opsê; Knysna United het Plett United 29-3 oorheers; Excelsiors het Black Lions 15-9 geklop; United Stars het Pro Stars 30-14 verslaan; en Groter-Knysna was 17-10 beter as Super Stars.

dysseldorpKarooliga

Dysselsdorp Rangers het Saterdag die span van Glen Roses (Avontuur) 31-7 verslaan. Die rustydtelling was reeds 26-0.

Andries Jacobs, die wenspan se sekretaris, sê Dysselsdorp se veel groter voorspelers het Avontuur moeg geskrum.

“Die stutte Ceril Sibanda en David Coerecius het lekker in die vaste los baljaar. Eric Campher (agsteman), Fergus Lewis (flank) en die plaasvervanger-flank Wilhelm (Bones) Samson, het eweneens gewoel en talle stormlopies ingekry. Pedro Samson (slot) was insgelyks blink voor hy beseer is.

“In die tweede helfte het die appelboere geniepsig begin raak en Dysselsdorp het die krane begin toe draai. Hulle kon dus net een drie in die helfte druk.”
Jacobs sê die skeidsregter moes die appelmanne herhaaldelik waarsku en hy het ook `n geelkaart uitgedeel.

Campher (twee), Edwin Soman (senter en kaptein), Coerecius en Wilhelm Samson het Dysselsdorp se drieë gedruk. Theo Titus het drie daarvan verdoel.

Dysselsdorp speel eerskomende Saterdag op “Die Rec” teen Oudtshoorn. Jacobs sê dit beloof `n grote te wees.

Opgesomde punteleer –

Kusliga

Suidstreek

Hungry Lions 53, Garden Route 45, Universals 34, Black Warriors 33, Proteas 33, Titans 22, Black Dolphins 15, Shamrocks 11. Winter Roses 2.

Oosstreek

Young Roses 55, Knysna United 51, Excelsiors 49, Black Lions 36, United Stars 31, Groter-Knysna 30, Super Stars 26, Pro Stars 13, Plett United 10, Perseverance 9.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.