SWD-liga: nuwe finalis pak Evergreens vanjaar

SWD Arende - logoDie Suidwestelike Distrikte se Premierliga-kampioen, Evergreens van Pacaltsdorp, het `n nuwe uitdager in die eindstryd nadat verlede jaar se naaswenner in die halfeindronde uitgeskakel is.

Barbarians van Mosselbaai het dié keer vir Progress van George 49-27 in die halfeindronde geklop.

Die kampioen het sy plek in die eindstryd Saterdag op Outeniekwapark, George, verseker deur Bridgton (Oudtshoorn) 44-23 te klop.

Evergreens het verlede jaar se eindstryd teen Progress 39-26 gewen, nadat hy rustyd 19-16 voorgeloop het.

Al drie Barbarians se spanne is in die eindstryd van hul onderskeie afdelings. Die tweede span het Groot-Brakrivier 31-14 geklop, en die derde eweneens vir Groot-Brak 13-3.

Evergreens se tweede het die knie 13-14 voor Bridgton gebuig, maar die derde span het Blanco 18-13 uitgeskakel.

In die Presidentsliga het Riversdal Blues vir albei eindstryde in aanmerking gekom deur Heidelberg onderskeidelik 12-7 en 23-13 te klop.

Die Maori’s (George) se tweede span het Willowmore 11-8 geklop.

Karooliga

In die eindstryde in die Karooliga op die Bridgton-sportterrein in Oudtshoorn speel Calitzdorp teen Dysseldorp, en Adias II (Oudtshoorn) teen Oudtshoorn II.

Die wedstryde op Outeniekwapark begin 09:00 en die op Oudtshoorn 14:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.