SWD-liga: Progress, NMMU veg pad boontoe

groot-brakrivierVerlede jaar se halfeinders Progress en NMMU is na `n paar haakplekke besig om weer hul pad boontoe te veg op die punteleer van die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga.

Progress het Silver Stars Saterdag 20-10 geklop en die NMMU het Crusaders 19-16 geklop. Dis die studente se eerste sege vanjaar.

Die SWD-kampioen en Goue Bekerspan, Evergreens van Pacaltsdorp, is na vyf wedstryde steeds onoorwonne nadat hy 20-0 met die nuweling, Swellendam, afgereken het. Swellendam het verlede seisoen die Presidentsliga gewen.

In die ander Premierligawedstryde het Groot-Brakrivier vir Bridgton van Oudtshoorn 32-25 geklop, en Barbarians van Blanco vir Blanco 40-21.

t Demi Rhoode, die wedstrydsekretaris van Groot-Brak, laat weet `n briljante drie deur die plaasvervanger-agsteman, Grant Pockpas, sowat tien minute voor die einde het sake vir sy span teen Bridgton beklink.

Benji Muller (regtervleuel), Ruben Loxon (linkervleuel) en Deroy Rhoode het die wenspan se ander punte aangeteken.

Rhoode het drie doelskoppe en `n strafdoel bygevoeg om op eie houtjie 14 punte aan te teken, en is as die speler van die wedstryd aangewys.

Henn-Lin Botha het `n skepdoel behaal.

Demi Rhoode sê Bridgton het baie goed in al die afdelings van die spel gevaar, maar Groot-Brak het die druk goed verwerk.

Die klub se tweede span het met `n dramatiese terugvegpoging 32- 28 gewen, en die derde span 7-0.

Allan Meyer tot die redding

♦ Allan Meyer was Saterdag die man wat tot Beaufort-Wes se redding teen Uniondale moes kom.

Meyer, wat volgens Benjiman Goliath, die voorsitter van Beaufort-Wes, `n reusewedstryd gespeel het, het twee drieë gedruk. Die tweede was die wendrie wat Beaufort-Wes die wegwedstryd 31-30 laat wen het teen `n span wat verlede jaar nog in die SWD se Premierliga gespeel het.

Goliath sê die spanne het mekaar behoorlik opgekeil in ‘n rillerwedstryd wat heeltyd wipplank gery het.

“Ná herhaalde druk op Beaufort-Wes se skrum, het Uniondale vroeg in die eerste helfte die voortou met `n verdoelde drie deur sy groot agsteman geneem.

“Beaufort Wes het kort daarna met `n drie in die linkerhoek deur Ashley Speelman teruggeslaan.

“Uniondale het `n strafdoel aangeteken om 10-5 voor te loop.

“Na `n skitterende agterlynbeweging deur Beaufort-Wes uit sy eie 22-m-gebied is Speelman weer in die linkerhoek oor, maar het die bal vorentoe verloor.”

Goliath sê dit het Uniondale se selfvertroue laat groei en hy het veral voorlangs begin oorheers, maar die los balle was genoeg vir Beaufort-Wes se agterlyn om dié voordeel teen te werk.

“Teen die verloop van spel het Cameron Hendriks wat soos `n wafferse vleuel met groot vaart langs die kantlyn afgesnel, sy teenstanders in die lug laat gryp en gaan druk sodat Beaufort-Wes rustyd 10-8 kon voorloop.

“Met die aanbreek van die tweede helfte het Meyer die tuisskare stilgemaak met ‘n onderskepdrie. Hy het `n goeie 35 m genael om onder die pale te druk. Bradley Magerman het dit verdoel en die telling het na 17-10 opgeskuif.

“Uniondale het egter met `n tweede verdoelde drie teruggeslaan om die telling 17-17 te maak,” vertel Goliath.

beaufort-wes“Die tuisspan het dit met twee strafdoele opgevolg om 23-17 voor te loop.

“Halfpad deur die tweede helfte het Beaufort-Wes sy vierde gedruk en `n bonuspunt verseker. Dis verdoel om Beaufort-Wes weer 24-23 voor te laat loop.”

Goliath sê albei spanne het verwoed aangeval om die wedstryd te wen en dit was Uniondale wat die skare laat raas het met `n verdoelde drie om die telling met enkele minute speeltyd oor 30-24 te maak.

“Ná harde praatwerk deur Beaufort-Wes se kaptein, Neville Damons, wat op sy verjaarsdag `n goeie wedstryd beleef het, was dit Meyer wat met speeltyd feitlik verstreke die wendrie vir Beaufort-Wes aangeteken het (31-30).

Beaufort-Wes se tweede span het moedig probeer, maar kon nie die wa teen hul meer ervare teenstanders deur die drif trek nie en Uniondale II het 16-8 gewen.

Eerskomende Saterdag speel die klub tuis teen die All Blacks van Oudtshoorn. Die hekke is van 09:00 af oop, met die Sekondêre Skool Beaufort-Wes wat in die voorwedstryde speel.

Dysselsdorp Rangers skok Oudtshoorn

♦ Dysselsdorp Rangers het Oudtshoorn Saterdag op Dysselsdorp `n groot skok toegedien deur hom 34-14 in `n Karoostreek-wedstryd te klop. Die rustydtelling was 19-7 in Dysselsdorp se guns.

Andries Jacobs, die sekretaris van Dysseldorp Rangers, sê dit was die span se derde agtereenvolgende bonuspunt-oorwinning. Hy het vyf driee teenoor die twee van Oudtshoorn gedruk.

“Die die skitterende hardloop werk van Dysselsdorp se vlugvoetige agterlyn was die verskil tussen die twee spanne. Agterspelers het vier van die vyf drieë aangeteken. Davestin (Tros) Esau, die heelagter, het twee drieë gedruk en Edwin Briekwa (senter) en Ben Gertse (vleuel) een elk.

“Die vyfde drie is deur die agtsteman Shavavdre Briekwa gedruk.

“Theo Titus (losskakel) het met drie doelskoppe en `n strafdoel geslaag.

Jacobs sê Esau (die speler van die wedstryd), Titus, Edwin Briekwa en die kaptein Edwin Soman (senter) het in die agterlyn uitgeblink. Voorlangs het Shavandre (Pakkies) Briekwa `n barshou gespeel. Pedro Samson (slot) het ook goed gespeel.

“Die kleiner voorspelers van Rangers het nie nie `n tree teruggestaan vir hul groter eweknieë nie.”

Oudtshoorn se tweede span het Rangers 26-10 geklop nadat die rustydtelling 12-3 was.

Chris Jaftha (stut) het Rangers se enigste drie aangeteken.

Dysseldorp reis eerskomende naweek na Young Leaves van Waboomskraal, waarna die span weer vier tuiswedstryde het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

snuffels ·

Maroela kan ons asb meer oor die Valke liga ook kry…die Brakpan span is een van die bestes in die land en wil graag volg wat hul doen. Dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.