SWD-liga: taai stryde én nagmerrie vir wedders

SWD Arende - logoSoos sake normaalweg in die ligas van die Suidwestelike Distrikte staan, is dit `n nagmerrie vir die beroepswedders – Saterdag is dit des te meer die geval.

Met die punteleer se nommer een (Evergreens van Pacaltsdorp) en twee (Groot-Brakrivier) wat albei verlede week slae gekry het, is die kragmeting op Groot-Brak tussen dié twee spanne van sleutelbetekenis vir albei.

In die wedstryde op Rosemore tussen Progress (12 ligapunte) en Bridgton (13), en op Blanco tussen Blanco (12) en Crusaders (14) sal die onderste spanne sterk aangevuur wees op hul onderskeie posisies te verbeter, en albei sal hul tuisskares agter hulle hê.

Die agteros, Swellendam, het verlede week bloed geruik, en die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Saasveldse kampus mag hom nie onderskat nie.

Silver Stars was verlede week die NMMU se moses en kan groter selfvertroue hê as wat gesond is vir Barbarians as die twee spanne in die D’Almeidastadion op Mosselbaai kragte meet.

Kusliga (Oos)

♦ Met slegs vyf punte (`n bonuspuntsege) wat die ses topspanne in die Kusliga (Oos) skei is die mededinging eweneesn straf.

Veral die wedstryde Saterdag tussen Black Lions (4de) en Young Roses (2de) asook tussen United Stars (5de) en Knysna United (3de) sal met mag en mening bestry word.

Ondertoe op die punteleer sal daar ook nie veel genade ter sprake kom as Groter Knysna (6de) en Plett United (8ste) aanmekaar spring nie. Dieselfde geld die wedstryd tussen Super Stars (7de) en Perseverance (9de).

Net die voorloper, Excelciors, lyk seker van sy saak as hy teen die agteros, Pro Stars van Proteapark, te staan kom.

Kusliga (Suid)

♦ In die Kusliga (Suid) val die kollig die skerpste op die wedstryd tussen die Proteas (4de) en Garden Route (2de) wat net deur twee ligapunte geskei word.

Ondertoe behoort die wedstryde tussen Shamrocks (7de) en Universals (6de), en tussen Winter Roses (9de) en Black Dolphins (8ste) heel mededingend te verloop. Roses is nog op soek na `n eerste sege vanjaar.

Die voorloper, Hungry Lions, lyk veilig teen Titans (5de).

Opgesomde punteleer –

Premierliga

Evergreens 31, Groot-Brakrivier 22, Barbarians 19, Crusaders 14, Bridgton 13, Progress 12, Silver Stars 12, Blanco 12, NMMU 12, Swellendam 5.

Kusliga (Oos)

Excelsiors 18, Young Roses 17, Knysna United 17, Black Lions 15, United Stars 15, Greater Knysna 13, Super Stars 12, Plett United 5, Perseverence 5, Pro Stars 1.

Kusliga (Suid)

Eerste spanne

Hungry Lions 20, Garden Route 16, Black Warriors 16, Proteas 14, Titans 10, Universals 7, Shamrocks 6, Black Dolphins 6, Winter Roses 0.

Tweede spanne

Titans 2, Universals 2.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.