SWD-liga: tydige seges, maar kampioen kry slae

Daar was Saterdag tydige seges vir ʼn paar spanne in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga, maar die verdedigende kampioen het verrassend slae gekry.

Crusaders (George) is weliswaar die vroeë voorloper op die punteleer, maar sy sege van 18-8 oor die SWD se driemalige Goue Bekerverteenwoordiger, Evergreens (Pacaltsdorp) was nie juis te wagte nie.

Vir Barbarians (Mosselbaai), Progress (George) en Bridgton (Oudtshoorn), wat ongewoon ver ondertoe op die punteleer geplaas is, was Saterdag se seges broodnodig.

Barbarians het Silver Stars met 29-11 geklop; Progress het 11 drieë gedruk om Blanco met 77-10 te verniel; en Bridgton het Groot-Brakrivier met 27-13 getroef.

Die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Georgekampus sal sy rugby van onder af moet herbou. ʼn Jaar of wat gelede was hy nog in die reeks se halfeindstryd, maar sy nederlaag van 32-36 op Saasveld teen die nuweling in die reeks, Maori’s (George), besorg hom nou agterosstatus.

Edward Maart, die sekretaris van Barbarians, laat weet dat naas die eerste span se sege het die tweede 20-24 teen Silver Stars verloor, en die derde het 34-24 met Stars afgereken.

Vir die eerste span het Winston Seconds (agsteman en kaptein) twee drieë gedruk, en Curshwon Mono (linkervleuel), Shane Olckers (slot) en Morné Buis (plaasvervanger-skrumskakel) elk een. Macdilen Saayman (losskakel) het twee doelskoppe en ʼn strafdoel behaal.

Die tweede span se agsteman Bennet Quantini het eweneens twee drieë gedruk, en Wilbur January (plaasvervanger-heelagter) een. Francois Smith (losskakel) het met ʼn doelskop en ʼn strafdoel geslaag.

Leolan Mondoe (heelagter), Leeroy Muller (regtervleuel), Ferdi Olivier (losskakel), Martino Adonis (agsteman) en Ustin Jokwana (haker) het die derde span se drieë gedruk. Cody Cairncross (binnesenter) het drie doelskoppe en ʼn strafdoel in punte omskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.