SWD-liga: verjaardagspan vat sommer eie geskenk

ʼn Klub wat vanjaar sy 25ste verjaardag vier, het Saterdag sommer sy eie geskenk in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga gevat.

Barbarians van Mosselbaai het die bond se verdedigende kampioen en Goue Bekerspan, Evergreens van Pacaltsdorp, behoorlik met 47-17 verrinneweer.

Die wenspan het sewe drieë teen drie gedruk.

Progress van George is nou die voorloper in die liga, met Barbarians tweede en Evergreens derde.

Progress het die NMMU met 38-5 oorweldig; Bridgton (Oudtshoorn) het Crusaders (George) met 37-27 getroef; Silver Stars (George) kon Blanco net-net met 26-24 klop; en Groot-Brakrivier het Maori’s (George) met 43-14 “ge-haka”.

♦ Edward Maart, die sekretaris van Mosselbaai Barbarians, laat weet die span het as eenheid so goed vertoon dat geen speler van die wedstryd aangewys is nie.

José Petersen (regtervleuel), Curshwon Mono (linkervleuel), Curtley Kiewiet (skrumskakel), Winston Seconds (agsteman), Hendrik Kriek (loskopstut) en Sario Rosenkrantz (binnesenter, twee) het die wenspan se drieë gedruk. Ralton October (losskakel) het ses verdoel.

Barbarians se tweede span het met 36-5 gewen.

Morné Kannemeyer, ʼn flank en die Mosselbaaise kaptein, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Randle Otto (heelagter), Jerome Fillies (regtervleuel), Luwelly Adams (linkervleuel), Luwayne Fortuin (slot), Luzane Clooca (plaasvervanger- haker) en Wayne London (plaasvervanger-slot) het die drieë gedruk. Otto het met twee doelskoppe en Francois Smith (losskakel) met een geslaag.

Barbarians se derde span het Evergreens met 32-17 op sy plek gesit, en Leeroy Muller (linkervleuel) is as die speler van die wedstryd aangewys.

Changlyn van Zyl (regtervleuel), Muller, Lohane Kiewiet (losskakel), Estiaq Geldenhuys (skrumskakel), Andrew Arries (slot) en Chivago Morton (plaasvervanger-loskopstut) het elk ʼn drie gedruk, maar Kiewiet kon slegs een verdoel.

Maart sê die tweede en derde span het die tafel gedek, en was die dryfveer vir die eerste span se wegholsege voor ʼn stampvol paviljoen.

♦ Imran Wesso, die woordvoerder van Groot-Brakrivier, sê goeie voorspelerrugby en ʼn puik agterlyn het mekaar aangevul in die klub se oortuigende oorwinning oor Maori’s, die nuweling in die reeks.

“Die skrumskakel, Mark Abrahams, het sy voorspelers behoorlik met die bal in die hande laat hardloop, voor hy dit met die agterlyn afgestuur het.

“Die Brakke het opnuut bewys hulle is baie gevaarlik uit gebroke spel. Sodra Maoriʼs die bal afstaan het, het Brak dit na sy regtervleuel, Ruben Loxton, gevoer wat die bewegings met twee pragdrieë afgerond het.

“Die voorspelers het baie goed gevaar, en meer aggressie in die losgemale getoon, met die slotpaar, Marquin Smart en Dave Abrahams, wat die enjinkamer versterk het.

“Die verdediging van die tuisspan was dié keer baie beter, die beste sover die seisoen. Die Brakke se besluitneming was ook goed, veral toe die besoekers se verdedigingslinie vinnig opgeskiet het, en die bal met grondskoppies agter die besoekers geplaas is, sodat hulle moes omdraai.”

Wesso sê Groot-Brakrivier se tweede en derde span het ook goeie oorwinings behaal, onderskeidelik met 25-7 en 47-6.

Loxton (twee), JP Kock (twee), Dave Abrahams en Jose Cunha het Groot-Brak se eerste span se drieë gedruk. Henn-lin Botha het vyf verdoel en met ʼn strafdoel geslaag.

Vir die tweede span het Ivan Meyer en Hagen Fillies drieë gedruk en ʼn strafdrie is aan die span toegeken. Deawan Carelse het die res met die skoen bygevoeg.

Reduaan Botha (twee), Keano Jullies, Arden Meyer, Imran Wesso, Deago Kiwiet en Danwin Lawrence het die derde span se drieë gedruk. Botha het vier en Meyer twee verdoel.

Presidentsliga (Karoo)

♦ In die Presidentsliga (Karoo) het Beaufort-Wes met 32-23 op sy tuisveld teen All Blacks (Oudtshoorn) gewen, en ʼn bonuspunt verdien om van vyfde na derde op die punteleer te klim, en die All Blacks in die vierde plek in te dwing.

Benjiman Goliath, die voorsitter van Beaufort-Wes, sê dit was in werklikheid ʼn wedstryd van teenstellende helftes, en met die All Blacks se groter en swaarder agttal wat uit die staanspoor die skrums en die lynstane oorheers het, het hulle binne vyf minute gaan druk ná ʼn rolmaalbeweging uit ʼn lynstaan 20 m van Beaufort-Wes se doellyn af, en was rustyd met 15-8 voor.

Met ʼn rustydse wysiging in sy skrumtegniek het Beaufort-Wes in die tweede helfte beter geskrum en het sy ligter en beweegliker voorhoede gaandeweg die oorhand, ook in die lynstane, oor die swaarder All Black-voorspelers gekry.

Waar hy nou die bal op die voorvoet gekry het, kon Beaufort-Wes sy gevaarlike agterlyn beter benut en die bal lug gee. “Hy het die een aanval na die ander van stapel laat loop, en die All Blacks het begin klei trap,” sê Goliath.

Gepaard met die impak wat K van der Linde van die bank af gebied het, kon die tuisspan die rustydagterstand in ʼn oortuigende sege omskep.

Beaufort-Wes se spelers van die wedstryde: Deni Joy (eerste span) en Marco Isaacs (tweede span). (Foto: Verskaf)

Aberdeen (Deni) Joy, die speler van die wedstryd, het twee skitter drieë gedruk. Die eerste was ʼn ware juweel en hy moes feitlik 50 m kantlyn langs nael daarvoor.

“In die proses het hy vyf verdedigers geklop, en met net die heelagter voor hom, het hy ʼn goed berekende tikskoppie oor dié se kop gegee, die bal vasgevat en gaan druk.

“Met die tweede het Joy weer die hakke vir die All Blacks gewys, wat self ʼn paar vaartvrate in hul span het, en nog ʼn pragdrie gedruk,” berig Goliath.

“Irlon April het weer eens ʼn uitstekende wedstryd op losskakel beleef, sy agterlyn akkuraat weggestuur, en takties goed en op die regte tyd geskop.

“Die vuurwerk het gespat onmiddelik nadat die groot, sterk Van der Linde op die veld gegaan het. Hy het die teenstanders heeltemal onkant gevang met sy ruwe krag, vinnige vaartversnelling, en het self ʼn slag `n goeie 50 m genael voor wanhopige noodverdediging voorkom het dat hy onder die pale druk.

“Anver Meyer het met sy goeie lakwerk beïndruk, en X Mngqibishi (kaptein) en A Speelman het insgelyks ʼn goeie wedstryd beleef.”

Joy (twee), J Ruwaldo en Speelman het drieë gedruk, en April het 12 punte met drie doelskoppe en twee strafdoele aangeteken. Die tweede span het met 22-13 gewen.

Marco Isaacs (twee) en K Calvert het driee gedruk. B Magerman het twee verdoel en met `n strafdoel geslaag.

Streekliga (Kus)

♦ In die Streekliga (Kus) loop Knysna United in die Oosstreek voor, met Groter Knysna en Excelsiors wat in sy nek blaas; en in die Suidstreek is Mosselbaai en Proteas in ’n taai stryd gewikkel, met United Stars wat hulle jaag.

Opgesomde punteleer (eerste spanne) –

Premierliga

Progress 33, Barbarians 30, Evergreens 29, Bridgeton 28, Crusaders 26, Silver Stars 24, Groot-Brakrivier 22, Blanco 14, NMMU 10, Maori’s 9.

Presidentsliga (Karoo)

Willing Hearts 32, Harlequins 24, Beaufort-Wes 19, All Blacks 19, Collegians 17, Spring Roses 15, Willowmore 14, Dysselsdorp 10, Uniondale 7.

Presidentsliga (Kus)

George 29, Eagle Stars 24, Young Roses 21, Happy Hearts 17, Jaguars 17, Hungry Lions 15, Bitou 13, Thistles 11, Garden Route 11.

Presidentsliga (Langeberg)

Heidelberg 31, Albertinia Rangers 29, Zoar 23, Ladismith 19, Riversdal Blues 18, Arrows 15, Riversdal-dorp 15, Seagulls 10, Black Birds 2.

Streekliga (Ooskus)

Knysna United 25, Groter Knysna 20, Excelsiors 20, Black Lions 19, Plett United 17, Pro Stars 12, Western Tigers 7, Super Stars 7, Flying Eagles 0.

Streekliga (Suidkus)

Mosselbaai 22, Proteas 22, United Stars 20, Shamrocks 18, Black Warriors 17, Perseverance 13, Universals 10, Titans 7, Black Dolphins 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.