SWD-liga: verrassings bly steeds nie uit

bridgtonDie mededingende Premierliga van die Suidwestelike Distrikte (SWD) het soos gebruiklik Saterdag sy verrassing opgelewer.

Bridgton van Oudtshoorn het vir die opskudding gesorg deur die nommer twee op die punteleer, Barbarians van Mosselbaai, 40-33 te klop en ses drieë teen drie te druk.

In die ander wedstryde het Progress (George) vir Groot-Brakrivier 18-10 geklop; Blanco het 32-21 met Swellendam klaargespeel; en Crusaders het Silver Stars 21-10 getroef.

Karooliga

In die Karooliga het Adias van Oudtshoorn die span van Dysselsdorp Saterdag 30-20 geklop (rustyd 22-5).

Andries Jacobs, Dysselsdorp se sekretaris, berig Adias het die besoekers met aanvallende hardloop rugby verras en nie toegelaat dat Dysselsdorp se swaar voorspelers in die prentjie kom nie. Hulle het vroeg-vroeg drie drieë aangeteken.

“In die tweede helfte het Dysselsdorp hard teruggeslaan en binne enkele minute 15 onbeantwoorde punte aangeteken. Die telling was toe skielik 22-20 in Adias se guns.

“Met net `n paar minute oor het Dysselsdorp onverklaarbaar `n strafskop voor die pale van Adias afgestaan. Die tuisspan kon verligting bring en het in die doodsnikke `n bonuspuntdrie gedruk.”

dysseldorpVir Dysselsdorp het Shavandre Briekwa (flank), David Coerecius (stut) en Edwin Soman (senter) drieë aangeteken. Davestin Esau (heelagter) het `n strafdoel oorgeklits en Ben Gertse (losskakel) `n doelskop. Jacobs sê uitblinkers vir Dysselsdorp was Shavandre Briekwa (flank), Coerecius (stut) en die jong skrumskakel Sherwin Schoeman.

Dysselsdorp speel eerskomende Saterdag teen Avontuur in die Langkloof.

Kusliga

Hungry Lions het in die Kusliga (Suid) onverwags ver (34-3) teen Proteas gewen; en dieselfde geld Universals se sege van 29-3 teen Titans.

Vir die res het sake redelik voorspelbaar verloop met Garden Route wat Shamrocks 17-0, en Black Warriors wat Black Dolphins 10-3 geklop het.

Laasgenoemde was ook die geval in die Oosstreek waar Young Roses vir Plett United 31-15 geklop het; Excelciors vir Perseverance 26-6 verslaan het; en Knysna United vir Pro Stars 56-0 oorrompel het.

Black Lions moes harder werk vir sy sege van 17-13 oor Groter-Knysna; soos ook United Stars wat Super Stars 14-12 geklop het.

Opgesomde punteleer –

Kusliga

Oosstreek

Young Roses 50, Knysna United 46, Excelsiors 45, Black Lions 35, United Stars 26, Groter-Knysna 26, Super Stars 25, Pro Stars 13, Plett United 10, Perseverance 9.

Suidstreek

Hungry Lions 48, Garden Route 40, Universals 32, Black Warriors 31, Proteas 29, Titans 22, Black Dolphins 15, Shamrocks 11, Winter Roses 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.