SWD-liga: Verrassings steek vroeg al kop uit

Barbarians mosselbaai - logoDie onvoorspelbare Premierliga van die Suidwestelike Distrikte het sommer vroeg-vroeg sy eerste reeks verrassings opgelewer.

Barbarians van Mosselbaai het Progress van George Saterdag gemaklik 37-19 op die D’Almeida-sportterrein in Mosselbaai geklop; die kampioen, Pacaltsdorp Evergreens, het bloed gesweet om Blanco United met `n enkele punt te klop; en die kwartfinalis Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se Georgekampus het die onderspit teen Groot-Brakrivier gedelf.

♦ Edward Maart, Barbarians se sekretaris, berig Wahlon Anthony (heelagter), Justin Bhana (regtervleuel), Morné Buis (skrumskakel), Winston Seconds (agsteman), Raimothy du Preez (haker) en Lesley London (plaasvervanger-buitesenter) het die tuisspan se ses drieë gedruk.

Wilbur January (losskakel) het nie so goed met die skopskoen gevaar nie, en net met twee doelskoppe en `n strafdoel geslaag.

Buis is as die speler van die wedstryd aangewys.

Barbarians se tweede span het 21-14 gewen en sy derde 25-3.

Clinton Wannies (skrumskakel), Martino Adonis (slot) en Addington Mondo (plaasvervanger-regtervleuel) is elk vir een van die tweede span se drieë oor. Deavan Karelse (losskakel) het met twee strafdoele geslaag.

Martino Adonis was die speler van die wedstryd.

Die derde span se driedrukkers was Lee-Whin van Wyk (buitesenter), Gregory Rhawe (flank) en Chestlon Palmer (plaasvervanger-skrumskakel).

Leolan Mondoe (heelagter) het met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag, en is as die speler van die wedstryd aangewys.

evergreens-logo♦ Evergreens moes bontstaan om Blanco United 24-23 te klop. Hy het darem in die proses `n bonuspunt verdien.

Alrico Beukes, die hoofafrigter van Evergreens, sê dit was gewis een van die beste klubwedstryde in jare op plaaslike bodem.

“Geeneen van die spanne wou bes gee en hulle mekaar 80 minute lank ongenadiglik aangevat.

“Die verskil tussen die twee spanne was onteenseglik die impak van Evergreens se Leegan Moos.”

Beukes sê die twee spanne het in die vaste fasette goed teen mekaar opgeweeg, hoewel Evergreens se same- en ondersteunende spel uit die gebroke spel beter was.

“Die ondersteuners sien reeds uit na die herontmoeting wat beloof `n grote te wees.”

Behalwe Leegan Moos het Eugene Heneke, Arden Wesso, C-Than Moos, Gershwin Muller en PJ van Rensburg vir die wenspan uitgeblink.

Joseph Fortuin, Wesso, Leegan Moos en Divandre Strydom het die Pacaltsdorpers se drieë gedruk en Leegan Moos het twee verdoel.

groot-brakrivier♦ Op die koop toe het Groot-Brakrivier 29-23 gewen teen een van verlede jaar se kwarteinders, die NMMU.

Demi Rhoode, Groot-Brak se wedstrydsekretaris, sê dit was `n baie taai wedstryd wat aanaanvanklik voorlangs deur die studente oorheers is.

“Ons spelers se dissipline en verdediging was baie beter. Die skeidsregter, Jason Japhta, het die wedstryd baie goed hanteer,” sê Rhoode.

“Die deurslag is gegee deur 15 Groot-Brak-spelers wat alles in die stryd gewerp het om te wen.”

Deroy Rhoode, die heelagter, het met sy slim spel en skopwerk die speler-van-die-wedstrydtoekenning gekry. Hy het `n drie, drie doelskoppe en `n strafdoel (14 punte) aangeteken.

Die ander drieë is deur Henn-Lin Botha, Anroy Roelfse en Ronald Slabbert gedruk

Al Groot-Brak se spanne het vyf punte verdien deurdat die tweede span ook vier drieë gedruk het om 35-12 te wen en die derde ses om 39-12 te wen.

♦ Silver Stars het die nuweling in die Premierliga, Swellendam, 31-20 geklop. Stars se tweede span het 27-19 gewen en die derde 17-3.

Duane Singrew, die sekretaris van Silver Stars, sê die wedstryd tussen die eerste spanne was tot aan die einde in die weegskaal.

“Silver Stars se agterlyn was soos gewoonlik vlymskerp en het deurentyd Swellendam se verdediging oopgevlek.

“Swellendam se voorspelers was op hul beurt puik en het goed gekombineer.”

Vir Silver Stars het Rasdene Solomons (vleuel) en Rodwill Williams (senter) uithalerspel gelewer. Anwico Stal (losskakel) het die wedstryd goed dikteer.

Voorlangs het Ricardo Erasmus, Pienkie Olivier, Franklin James en Renaldo Baartman die oog gevang.

Aswin Scott, Baartman, Stal en Solomons het Silver Stars se drieë gedruk en `n strafdrie is aan die span toegeken. Stal het met drie doelskoppe geslaag om sy bydrae op 11 te staan te bring.

Kusliga (Oos)

♦ In die Kusliga (Oos) het Excelsiors vir Young Roses 8-3 geklop; Plett United vir Pro Stars 38-8; Groter Knysna vir Perseverance 10-3; Knysna United vir Super Stars 22-13; en Black Lions vir United Stars 41-12.

Pro Stars SWD♦ Bennie July, die sekretaris van Pro Stars, sê ondanks `n snikhete dag op Plettenbergbaai het die tuisspan uit elke hoek van die veld met die bal gehardloop.

“Ons het waarskynlik oor die 30 balle in die los afgestaan. Dit was `n foutbesaaide vertoning deur ons jong span.

“Boonop het die tuisspan ons met magtige plettervatte onder druk geplaas.”

Die rustydtelling was 3-16 in Plett se guns.

July sê daar was min uitblinkers aan Pro Stars se kant, maar die nommer 5-slot, Ashwin Herald, was skitterend. Hy het `n alleenstryd voorlangs gevoer en vir die duur van die wedstryd vreesloos verdedig.

Pro Stars se enigste drie is deur die alomteenwoordige haker, Jonathan Krige, met drie verdedigers op sy rug gedruk.

“Dit was `n stryd van fisieke uitmergeling, met die groot agterspelers van Plett wat vernietiging gesaai het elke keer as hulle die bal in die hande gekry het en vyf drieë gedruk het.”

Behalwe Krige se drie het Alcino Davids `n strafdoel vir Pro Stars behaal.

Kusliga (Suid)

♦ In die Kusliga (Suid) het Shamrocks vir Winter Roses 29-21 geklop; Titans vir Black Dolphins 11-3; Black Warriors vir Proteas 18-0; en Hungry Lions en Garden Route het 14-14 gelykop gespeel.

Karooliga

♦ In die Karooliga het Dysseldorp Rangers vir Gamka United 61-10 geklop.

Andries Jacobs, die sekretaris van Dysseldorp Rangers, sê sy span se voorspelers het die grondslag vir Rangers se sege gelê.

Veral Le Roy Jansen (flank), Darryl Job en Edwin Soman (senters), Davestine Esau (heelagter) en Auburn Baartman (skrumskakel) het vir die wenspan uitgeblink.

Esau, Job, Theo Titus, Baartman, Jansen, David Coerecius, Elric Oktober, Charlton Marnewick en Desnut Oktober het Rangers se drieë gedruk. Titus het drie verdoel en Esau vyf.

Rangers speel eerskomende naweek weer tuis teen Adias.

beaufort-wesVriendskaplik

♦ Beaufort-Wes het Saterdag sy laaste vriendskaplike wedstryd van die seisoen gespeel en Kaapstad Polisie heel skaflik 51-17 geklop. Beaufort was rustyd 17-5 voor.

Benjiman Goliath, die klub se voorsitter, sê goeie hardlooprugby, iets waaraan die tuisskare gewoond is, het verseker dat die wenspan reeds binne die eerste tien minute drie drieë gedruk het.

Swak skopwerk van voor die pale deur Bradley Magerman het egter die telling laag gehou. Slegs drie van die nege drieë is verdoel.

Goliath sê die besoekers uit Kaapstad het hard probeer om met hul groter en swaarder agttal die vlugvoetige spelers van Beaufort-Wes te stoomroller, en nie minder nie as sewe vaskoppe gehaak. Dit het hulle gehelp om drie drieë te druk.

Uitblinkers vir die wenspan was Bradley Magerman, Iron April, Neville Damons (kaptein), Fareed King, Allan Meyer, Emaneul Joy, Brandon Roussouw, Ascly Speelman, Shane Petrus, Damean Louw en Justin van der Linde.

Magerman, King (twee), Meyer, Joy, Roussouw, Speelman, Petrus en Kennedy Horn het die drieë gedruk

Goliath sê R1 100 is by die hek vir die Kankervereeniging ingesamel.

Iron April skop pale toe.

Iron April skop pale toe.

Beaufort-Wes se eerste verpligting in die Presidentsliga (Karoo) is sy derby op 2 April tuis teen Willing Hearts van Prins Albert.

Die klub se Iron April, wat vir Griekwas Cravenweek-rugby gespeel het en die SWD Arende se plattelandse span die afgelope drie jaar verteenwoordig het,  is opgeroep om saam met die Arende se elitegroep te oefen.

Goliath sê dit beloon April se volgehoue toewyding en harde werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.