SWD-liga: voorloper kry slae; sake raak warm

Die voorloper in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierliga het Saterdag slae gekry, en ná die jongste naweekronde is sake in die reeks besig om warm te raak.

Crusaders van George het slegs sy tweede wedstryd verloor toe Mosselbaai se Barbarians hom met 18-15 op sy plek gesit het.

Slegs vyf ligapunte skei die boonste vier spanne van mekaar, en alles dui daarop dat dit weer ʼn kwaai gespook om die titel sal afgee.

Crusaders is nog boaan die leer met 25 punte ná sewe wedstryde, gevolg deur die verdedigende kampioen en Goue Bekerspan, Evergreens van Pacaltsdorp, met 24 ná ses wedstryde.

Progress van George het 23 en Barbarians 20, insgelyks ná ses wedstryde.

Eersgenoemde het Saterdag met 45-18 teen Maori’s van George gewen; Bridgton (Oudtshoorn) het Silver Stars (George) met 45-18 oorrompel; en Groot-Brakrivier het sy wendroogte beëindig deur met 27-13 met Blanco klaar te speel.

♦ Edward Maart, die sekretaris van Barbarians, laat weet Wahlon Anthony (heelagter) en Winston Seconds (agsteman) het elk ʼn drie teen Crusaders gedruk.

Macdilen Saayman (losskakel) het met ʼn doelskop, ʼn strafdoel en ʼn skepdoel geslaag.

Leonard Stuurman (flank) is as die speler van die wedstryd aangewys.

Barbarians II het Crusaders II met 25-17 geklop, en Barbarians III vir Crusaders III met 24-11.

Maart berig Llewellyn Lottering (buitesenter), Clinton Wannies (linkervleuel) en Chester Mitchell (regtervleuel, twee) het Barbarians II se drieë gedruk.

Teswin Sampson (losskakel) het een verdoel, en Francois Smith (plaasvervanger-losskakel) het met ʼn strafdoel geslaag.
Jeante de Jager was die speler van die wedstryd.

Martino Adonis (agsteman) het twee drieë vir Barbarians III gedruk en is as die speler van die wedstryd bekroon.
Leolan Mondoe (heelagter) het ʼn drie en ʼn doelskop aangeteken, en Hegan Jansen (buitesenter) ʼn drie.

Barbarians is vanjaar 25 jaar oud en het pas met die oog hierop ’n nuwe embleem bekend gestel.

♦ Imran Wesso, Groot-Brakrivier se woordvoerder, laat weet die wenspan was rustyd reeds met 13-6 voor in die wedstryd op sy tuisveld.

“Die twee spanne het in die eerste helfte strafdoele uitgeruil, wat die telbord in ʼn stadium op 6-6 te staan gebring het.

“Nadat albei spanne hardlooprugby opgedis het, het die flank Cheslyn Gelderbloem kort voor rustyd gaan druk ná ʼn vinnige tikskoppie op Blanco se 5-m lyn, en Henlinn Botha het die drie verdoel (rustyd 13-6).

“Ná rustyd het Blanco ʼn drie gedruk en verdoel (13-13).

“Dit het ʼn tergende einde beloof toe albei spanne weer die bal in die hande gehou en die speltempo versnel het.”

Wesso sê JP Kock, die tuisspan se haker, het met een van sy kenmerkende kraglopies sy span weer die voortou laat neem toe hy die bal in die teenstanders se 22 m-gebied uit gebroke spel ontvang en oorgeval het. Botha het dit verdoel om die voorsprong tot 20-13 te rek.

“Gelderbloem het ʼn tweede drie gedruk nadat Groot-Brakrivier hom weer in Blanco se kwartgebied bevind het. ʼn Losbal is gewen en vinnig wyd gespeel vir die Brakke se flank om twee verdedigers uit die pad te loop en onder die pale te druk. Botha, wat ook twee strafdoele oorgeklits het, het met sy derde doelskop geslaag.

“Die Brakke het soms moeilike tye in die lynstane en skrums beleef, maar wanneer hulle balbesit omgekeer het, het die vuurvreterslot Marquin Smart die bal baie sterk gedra en soos ‘n flank daarmee gehardloop.”

Wesso sê Groot-Brakrivier het skoonskip gemaak deurdat sy tweede span met 38-8 en die derde met 42-11 gewen het.

Benewens ʼn strafdrie het Byrol Stuurman (twee), Ivan Meyer, Jonathan van Vuuren en Jose Cunha die tweede span se drieë gedruk. Deaven Carelse het drie daarvan verdoel.

Vir die derde span het Imran Wesso, Branville Abrahams, Jonthan van Vuuren, Hugh Minnies en Maseleidien Korkee gedruk. Daar was eweneens ʼn strafdrie, en Reduaan Botha het met vyf doelskoppe geslaag.

Streekliga (Kus)

♦ In die Streekliga (Kus) het Proteas van Ruiterbos op Herbertsdale met 31-15 teen die plaaslike Black Warriors gewen (rustyd 17-15).

Clive Uithaler, die voorsitter van Protea, sê sy span het dissipline en geduld aan die dag gelê en sy kanse behoorlik benut.

“Voor- en agterspelers het puik gekombineer en die algemene spel was uitstekend, al het die spelers by tye amper kop verloor en uit oorgretigheid besit afgestaan.”

Hy bestempel die oorwinning as ʼn grootse spanpoging.

Uithaler beskryf een van Proteas se juweeldrieë so: “Met goeie samespel tussen agter- en voorspelers het Proteas besit in sy eie kwartgebied op die grond omgekeer. Die losskakel, Brendon Scheepers, het sy agterlyn wonderlik weggestuur, en dié het ruimte aan die buitekant vir die werkeselflank Cheslin September geskep. Hy het die bal op die middellyn ontvang, soos wafferse vleuel genael en stof in Warriors se vleuels se oë geskop. Daar was geen keer aan hom nie en hy het onder die pale gaan druk.

“Scheepers het getoon hy sal nog groot skoene vol staan en 100% akkuraat uit elke hoek van die veld geskop.”

Hy het met vier doelskoppe en ʼn strafdoel van 60 m geslaag.

Uithaler sê Brian Goliath het getoon dat ʼn mens nie ervaring kan koop nie, nadat hy Delbert Kannemeyer as skrumskakel vervang het.

“Met Goliath se vinnige dinkwerk het die Proteas hul derde drie gedruk toe hy die vleuel Rideon Manneville van ʼn strafskop af vir sy tweede drie oorgestuur het. Kwalik vyf minute later het hy weer so gemaak en Ishmail (The Beast) Minnie vir die bonuspuntdrie in die hoek oorgestuur.

“Indien Protea op dié vertoning kan voortbou, wag die halfeindstryd op hom,” voorspel hy.

Uithaler sê hy en sy medeafrigter Isaac Sheepers sal koppe moet krap, want elkeen het sy kant gebring, en met spelers wat weens ander verpligtinge nie kon speel nie, gaan dit moeilik wees om aan die wenspan te krap.

“Daar is wel bepaalde aspekte waaraan gewerk moet word.

“Protea is ná vier wedstryde nog onoorwonne en het ʼn wedstryd minder as al die ander spanne gespeel.

“Dissipline en geduld is die span se wagwoord.”

Opgesomde punteleer –

Premierliga

Eerste spanne

Crusaders 25, Evergreens 24, Progress 23, Barbarians 20, Bridgton 19, Groot-Brakrivier 16, Silver Stars 14, Blanco 12, Maori’s 8, NMMU 8.

Tweede spanne

Progress 23, Crusaders 23, Groot-Brakrivier 22, Bridgton 20, Evergreens 19, Barbarians 17, Silver Stars 15, Blanco 11, Maori’s 6, NMMU 1.

Derde spanne

Barbarians 24, Groot-Brakrivier 23, Crusaders 20, Evergreens 20, Progress 17, Blanco 17, Bridgton 17, Silver Stars 11, Maori’s 5, NMMU 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.