Swiel sink dapper Cheetahs

Die WP het sterk in die skrums vertoon. (Foto: Twitter via WP Rugby)

Ja swaer, ’n man voel soms mistroostig wanneer hy aan die Cheetahs dink. En hierdie emosie het niks te make met die spelers se durf en talent op die veld nie, maar eerder oor die houe wat die unie al op die kakebeen moes vat.

Vandag het Hawies Fourie se span in die doodsnikke van hul Curriebeker-kragmeting teen die Westelike Provinsie verloor. Tim Swiel se skopvoet het in die 80ste minuut van die wedstryd gesorg dat die Kapenaars die stryd met 31 – 29 gewen het.

Dink egter wat jy wil van die Vrystaat nadat hul veldtog tot ’n einde gekom het; hulle is ongetwyfeld bittereinders.

Frans Steyn se skopskoen het vir 19 punte gesorg (Foto: Twitter via Currie Cup)

Kort ná rustyd het hulle ’n agterstand van 9 – 23 in die gesig gestaar, maar die Bloemfonteiners het nie gaan lê nie. Eers was die momentum-inspuitings te danke aan Frans Steyn se skopvoet – hy het weer eens met ’n paar reuse-stelskoppe geslaag – waarna Rosko Specman en Wilmar Arnoldi se drieë die spreekwoordelike kat in die WP se duiwehok losgelaat het.

Skielik was die telling 29 – 28 in die Cheetahs se guns, maar Swiel en kie het uiteindelik die laaste gelag.

Die WP verdien egter ook al die lof wat hulle toekom. Hulle het deksels sterk in die skrum-situasie vertoon, terwyl Swiel komkommerkoel gebly het om daardie strafskop oor die dwarslat te jaag.

’n Wen bly immers ’n wen; maak nie saak hoe dit gedoen word nie.

Die Kapenaars het in 2017 laas met die Curriebeker-louere weggestap en met die Blou Bulle wat vir ’n paar naweke buite aksie weens Covid-19-regulasies was, wag daar ’n opwindende laaste paar wedstryde op die horison.

  • Puntemakers:

WP: Drieë: JC Coetzee en Bongi Mbonambi. Strafskoppe: Tim Swiel (7).
Cheetahs: Drieë: Wilmar Arnoldi en Rosko Specman. Strafskoppe: Frans Steyn (4). Doelskoppe: Steyn (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.