Tafel gedek vir Cheetahs/Bulls-stryd in Bloem

Clayton Blommetjies speel in sy 100ste wedstryd vir die Cheetahs. Foto: Twitter.

Die Cheetahs het verlede week vir ’n lekker lusmakertjie gesorg toe hulle vir die Pumas met 53 – 31 geklop het. Nou is hulle gereed vir die hoofgereg wanneer hulle die Bulls in Bloemfontein aanvat.

En die sterbelaaide Pretorianers – wat met spelers soos Morné Steyn, Arno Botha, Duane Vermeulen en Jason Jenkins spog – is juis een van die spanne wat die Cheetahs sal wil wen.

Nie net om ’n sekere diplomatiese handgebaar vir die Suid-Afrikaanse rugbybase te wys wat die Bloemfonteiners uit die Pro14/16-reeks geskop het nie, maar ook om die etiket af te skud dat hulle net wedstryde teen afgewaterde spanne wen.

Maar waar die Bulls met ’n hele paar hardebaarde spog, hoef die Cheetahs vir niemand terug te staan nie.

Daar is Frans Steyn en Ruan Pienaar, terwyl Rosko Specman graag vir die Bulls in Bloemfontein ordentlik sal wil verwelkom; hy het immers ’n rukkie gelede nog op Loftus Versfeld vir die Pretorianers uitgedraf.

O ja, dan speel Clayton Blommetjies sy 100ste wedstryd vir die Vrystaters.

Duane Vermeulen is terug om die Bulls aan te voer. Argieffoto.

“Clayton is ’n baie volwasse speler; hy hou daarvan om deel van die aksie te wees, terwyl hy gevaarlik op die aanval is,” het die Vrystaatse hulpafrigter, Corniel van Zyl, gesê.

Die Cheetahs was veral op hul beste in die eerste helfte teen die Pumas – toe hulle met 41 – 3 voorgeloop het – en Van Zyl meen dat hulle iets soortgelyk teen die Bulls moet opdis. Maar net nou vir die volle 80 minute.

“Baie sal van ons voorspelers afhang en of ons die spel voorlangs kan oorheers. Ek is egter daarvan oortuig dat ons voorspelers ’n goeie grondslag vir ons agterspelers kan lê.”

Die wedstryd begin Vrydagaand om 19:00.

Cheetahs: Clayton Blommetjies (heelagter), Malcolm Jaer (regtervleuel), Benhard Janse van Rensburg (buitesenter), Frans Steyn (binnesenter), Rosko Specman (linkervleuel), Tian Schoeman (losskakel), Ruan Pienaar (kaptein en skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Junior Pokomela (flank), Adisa Ntsila (flank), Walt Steenkamp (slot), Carl Wegner (slot), Luan de Bruin (stut), Reinach Venter (haker) en Charles Marais (stut). Plaasvervangers: Jacques du Toit, Boan Venter, Erich de Jager, JP du Preez, Aidon Davis, Chris Massyn, Tian Meyer en William Small-Smith.

Bulls: Gio Aplon (heelagter), David Kriel (regtervleuel), Cornal Hendricks (buitesenter), Clinton Swart (binnesenter), Jade Stighling (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Duane Vermeulen (kaptein en agtsteman), Arno Botha (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortje (slot), Jason Jenkins (slot), Trevor Nyakane (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Jacques van Rooyen (stut). Plaasvervangers: Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp, Mornay Smith, Sintu Manjezi, Nizaam Carr, Ivan van Zyl, Chris Smith en Stedman Gans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JBN ·

Foeitog. Hierdie is nie nuuswaardig nie. Stel nie meer belang in hierdie Anc kwotaspannetjies nie. Dit is net tydmors.

Karlahari ·

Eish…..maar die flou bul kommentators is suur!
VRYSTAAT!!!!!!!

Frans ·

Die wedstryd is verby en die Cheetahs wen 19-17.Wat kan ‘n mens wys word uit ‘n wedstryd waarin die kommentators lewe probeer blaas het. Die Cheetahs se samespel is stukke beter as die Bulls wat talle foute begaan het en nooit agterlangs as ‘n kombinasie aan die gang kon kom nie.

Waarom SARU besluit het om die vier grotes Noorde toe te stuur sal net hul weet, want nie een van die spanne wat al op die veld was sal enige sukses soos hul nou speel behaal teen die voorste Kiwi en Aussie spanne nie en dit dalk die rede vir hul besluit is.

Die span wat mi die beste toegerus is om sukses te behaal is die Stormers wat voorlangs veral in die vorry beter toegerus is as enige van ander spanne in Suid Afrika. Gaan die Bulls ‘n goeie span word?

Ja hul kan beter maar ek is bevrees dat die beste dae van Morne Steyn verby is en die Bulls se agterlyn
gaan sukkel in die tydperk van opskiet verdediging want jy het ‘n losskakel nodige wat met flinke voetwerk en spoed dit kan oorkom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.