Tandlose Stormers ly vyfde neerlaag in ses wedstryde

Die Sharks het Saterdagaand in Durban ʼn swaarverdiende sege van 22-10 oor die Stormers behaal.

Moenie te veel na die telling kyk nie: Hierdie was geensins ʼn eensydige wedstryd nie.

Tog sal die Stormers bekommerd wees. Hoe jy ook daarna kyk was hierdie hul vyfde neerlaag in die laaste ses wedstryde en was hulle Saterdag meestal tandloos op die aanval.

Die Sharks het begeesterd weggespring, met Johan Deysel wat vroeg oorgeduik het.

Deysel, wat onder die Sharks-afrigter Robert du Preez by die Noordwes-Universiteit van die koshuisspan (Patria) tot eerste-keuse binnesenter vir die NWU gegaan het, het sy mentor se vertroue in dié Namibiese Wêreldbekerspeler onderstreep. Hy is ʼn sterke derduiwel.

Die Sharks se Springbokslot Stephan Lewies het kort voor rustyd ook gaan druk en Garth April het ʼn doelskop by sy strafdoel vroeg in die wedstryd gevoeg. Die rustydtelling was 15-0.

Nóg ʼn oud-Puk, SP Marais, het ʼn kwartier ná rustyd die Stormers op die telbord gekry toe dié ongewaardeerde 28-jarige heelagter oorgeduik het. Hy het self verdoel en met ʼn strafdoel al sy punte aangeteken.

ʼn Glibberige bal en verspilde geleenthede was aan die orde van die dag, hoewel die Sharks se hardnekkige verdediging, veral in die eerste helfte toe die Stormers met rolmale volhard het, ʼn groot pluimpie verdien.

Die verdedigingsdruk en nat bal het die Stormers soms onseker laat voorkom.

Hierdie was ʼn vreemde wedstryd om te beskryf. Hoekom? Want die Stormers was meer uitnemend op die aanval en moes, was dit nie vir vele breinontploffings nie, die wedstryd in die sak gehad het.

Hulle het die bal meer gedra, meer teenstanders geklop, beter verdedig, meer besit en meer gebied gehad. En meer verbrou….

Die Sharks se onoorwonne rapport op hul tuisveld vanjaar bly vlekloos en hoewel daar nie rooikringe op vandag se verslagkaart onthou sal word nie, is daar rede vir kommer.

Hulle kon ook, weens die geleenthede daartoe, net eenvoudig nie die nekslag toedien nie. Hulle het geslaag in hul taak, maar was nie die noodwendig die beste span nie. Daar is self nog baie werk vir afrigter Du Preez.

Die jong linkervleuel Sibusiso Nkosi, een van die driedrukkers, was briljant en welverdiend die Speler van die Wedstryd.

Jean-Luc du Preez … hý is nou ʼn man wat jy langs jou in ʼn loopgraaf wil hê. Blaas sy beuel en steeds gaan dit ʼn fluister wees teen hoe sy heldhaftigheid uitgebasuin moet word.

Gelukkig het Allister Coetzee en Kie. hom Saterdag as ʼn ekstra-losvoorspeler na die Bokgroep nadergetrek.

Dit is welverdiend.

Puntemakers –

Sharks (15) 22: Drieë: Johan Deysel, Stephan Lewies, Sbu Nkosi. Doelskoppe: Garth April 2. Strafdoel: April.

Stormers (0)10: Drie: SP Marais. Doelskop: Marais. Strafdoel: Marais.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

vramaarnet ·

Wat bedoel die skrywer met “vele breinontploffings” ? Ek het nog nooit van so ‘n beskrywing gehoor nie.

Johan ·

Die Sharks het so stilweg hulle plek in die semi’s oopgespeel maar het iemand onlangs na die “logs” gekyk? As die Sharks volgende naweek vir die Bulls sonder ‘n bonuspunt wen is die semi tussen die Cheetas en die Sormers – en dis ‘n dapper man wat dan teen die Cheetas gaan wed

Kollie ·

Vier van die ses was wegwedstryde en vier van die ses was ook teen NZ spanne (drie weg wat almal verloor is en een tuis wat gewen is). Dis eintlik net die verloor teen die Lions op Nuweland wat ‘n effense verrassing is. Sharks sal die Lions ook klop in Durban, hulle het die beste agtal van die SA spanne.

Dawie ·

Mnr Kollie…hulle saai wel wedstryde op tv uit om te kyk…ek weet nie op watse radio stasie luister jy die rugby nie, maar kyk gerus as die lions speel…radio luister gee wp ondersteuners n verkeerde indruk!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.