Taute se langer ‘leentydperk’: geld of spankeuse?

Jaco Taute (Foto: Irish Rugby)

Jaco Taute (Foto: Irish Rugby)

Die nuus dat Jaco Taute nou tot Junie by Munster sal speel nadat hy aanvanklik net vir drie maande by Rassie Erasmus-hulle sou wees, laat ʼn mens wonder oor hoe en hoekom dit gedoen is.

Taute het, na sy klomp beserings sedert hy van die Goue Leeus/Lions af weg is Kaap toe, sedert 2013 nog net 23 wedstryde vir die Westelike Provinsie en ook 23 vir die Stormers  gespeel.

Nou, onder Erasmus en in die sterk Munsterspan, het Taute skielik gedy. Hy lyk na die speler van ouds en is die ster in die span waar die Ierse flank CJ Stander ook sy naam gemaak het, en is die spil van die Munster-agterlyn. Hy is in sy tien wedstryde reeds vyf keer oor die doellyn.

Maar hoe kry hy dit reg om langer in Ierland aan te bly? So lank dat hy klaarblyklik net vir die Stormers se laaste drie Superwedstryde beskikbaar sal wees?

♦  Daar is twee moontlike antwoorde.

Die Stormers het hom vrygestel omdat hulle hom nie nodig het in ʼn span wat oor die dienste van verlede jaar se (middelmatige) Springboksenters beskik nie. Juan de Jongh en Damian de Allende was in 2016 en sal seker weer Robbie Fleck se uitverkorenes in die middelveld wees.

Hulle het ook Dan Kriel, tweelingbroer van die Bulls se Springboksenter Jesse, Kaap toe gelok.

Taute, wat ewe tuis is op heelagter waar hy eintlik die eerste keer die oog gevang het voordat hy as senter `n Springbok geword het, sal op heelagter ook sukkel om Cheslin Kolbe by die Stormers te vervang.

Kolbe, met ʼn verdagte verdediging, sukkel weens sy gebrek aan lengte ook onder die hoë bal. Tog bly hy met sy opwindende aftrappe en breekslae ʼn groot gunsteling in die Kaap.

Die tweede moontlike rede vir die Stormers se bereidwilligheid om Taute tot Junie van sy Kaapse kontrak vry te stel is die finansiële probleme waarmee die maatskappy WP Rugby (Edms) Beperk sukkel.

Die besparing op die dienste van Taute kan help om die WP-maatskappy se kontantvloei te stu, net soos die min WP-speleraanwinste uit ander unies/franchise’e ook seker daaraan toegeskryf kan word.

Geld sal in die toekoms ook ongetwyfeld ʼn toenemende dryfveer wees vir die SA unies/franchise’e om spelers vir rukke aan oorsese klubs vry te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.