Te veel foute knou lustelose Sharks se uitspeelkanse

Daar is te veel moontlike permutasies om nou te bepaal watter spanne oor twee weke in die Superreeks se kwarteindronde sal speel, maar daar is ʼn goeie kans dat die Sharks nie daar sal wees nie.

En dit is net sowel ná die Durbaniete se sukkel-vertoning wat gewemel het van aanslane en swak dissipline in ʼn wedstryd wat Saterdagaand met 27-16 op Nuweland deur die Stormers gewen is.

Die guns wat die Bulls hulle vroeër Saterdag gedoen het deur die Jaguares pak te gee, het aan die Sharks ʼn uitspeel-hupstoot gegee wat nou feitlik verseker weggesmyt is.

Die KwaZulu-Natallers het verlede week die hele eerste helfte teen die Lions met durf verdedig en toe in die tweede helfte met ʼn goeie aanvalsvertoning losgetrek en die wedstryd gewen. Van laasgenoemde se gehalte was daar Saterdag op Nuweland selde enige teken.

Die Sharks het, soos in die eerste helfte voor die Lions se beserings verlede week, ondanks hul drie Springbokke in die voorry in die skrums swaar geleef, hoewel daar soos teen die Lions ná rustyd darem kere was waar hulle oorheers het.

Dit was die Stormers se laaste wedstryd in die 2018-Superreeks, en hulle het van hul 16 wedstryde net ses gewen ‒ net soveel soos die Sharks en die Bulls wat egter albei nog ʼn wedstryd oor het.

Die Stormers se spel was heelwat beter as die afgelope wedstryde, en ʼn mens kon dit veral by die twee spanne se mededinging by die afbreekpunte waarneem. Dit was egter nog nie naastenby só goed dat die Kapenaars vanselfsprekend na ʼn goeie seisoen aanstaande jaar kan uitsien nie, want die wedstryd was teen ʼn ietwat lustelose Sharks-span.

Dit doen egter nie afbreek aan die goeie vertoning van Cobus Wiese op slot nie en aan die Stormers se agterlyn wat plek-plek goed gelyk en geleenthede geskep het.

Die Suid-Afrikaanse afdeling is dus nog nie gefinaliseer nie. Daar is ʼn skraal kans dat die Sharks dit nog na die kwarteindronde kan maak, maar dan moet die uitslae die komende naweek vir hulle reg verloop.

Puntemakers ‒
Stormers (21) 27:
Drieë: Cobus Wiese, EW Viljoen, Raymond Rhule. Doelskoppe: Josh Stander (3). Strafdoele: Stander (2).
Sharks (9) 16: Drie: Kobus van Wyk. Doelskop: Robert du Preez. Strafdoele: Du Preez (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Jammer te laat vir die Stormers,waar het die span weggekruip?

volla ·

Speel met rukke en stote soos al die ander SA spanne en kan nie weg wen nie. SA rugby is tans maar oor die algemeen swakkerig, ek reken ons gaan ook teen Aus pakslae kry. Ek noem nie eers NZ nie want hulle is strate beter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.