‘Te veel gimnasiumwerk is tydmors’

Brian O'Driscol

Brian O’Driscol

Te veel tyd word in gimnasiums vermors en te min aandag word aan vaardighede gegee, sê die uitgetrede senter Brian O’Driscol – waarskynlik die beste senter van sy era.

Dit is ook hoekom hy die All Blacks as die uit-en-uit-gunstelinge vir die Wêreldbeker beskou.

“Ek het nooit `n aptyt vir gimnasiumwerk gehad nie, maar dit as `n noodsaaklike euwel beskou.

“Om swaar gewigte te kan optel, is `n belangrike deel van fiksheid. Jy moet sterk wees, maar dis net een aspek. Jy moet aerobies fiks en báie vaardig wees en ek dink nie die balans is meer daar nie.

“Ek sien dit by die Ierse akademies, waar groot klem gelê word op die gewigte wat `n speler kan optel, maar nie of hy die bal in die hardloop tien tree ver kan uitgee nie,” het O’Driscol aan The Telegraph gesê.

In sy lang loopbaan van onder meer 141 toetse was sy vermoë om die regte besluite te neem sy uitstaande kenmerk.

Dit laat `n mens dink aan die ontbrekende vaardighede by die deursnee Suid-Afrikaanse speler.

♦Skrumskakels, ook op nasionale vlak, wat treetjies gee en eers die arms moet terugtrek voor hulle uitgee.

♦Senior spelers, insluitende Springbokagterspelers, wat nie na regs kan uitgee nie.

♦Springbokvoorspelers wat glad nie uitgee nie.

♦En die gemak waarmee `n geïsoleerde speler wat die bal vang `n opstormende verdediger systap omdat hulle nie effens stadiger hardloop sodat hulle hul gewig makliker kan verplaas nie.

♦Gebrekkige visie en verkeerde opsies, nie net met skoppe nie . . .

Die All Blacks beskik oor die beste balans tussen fisiekheid en die meer serebrale elemente, sê O’Driscol. Daarom sal hulle – as Dan Carter kan speel – die groot gunstelinge vir die Wêreldbeker wees.

“Hulle beskik oor yslike vaardigheidsvlakke, iets waarop hulle van jongs af klem lê. Hulle doen al hul fiksheidswerk met `n bal, vandaar hul groter vaardighede. En die Polinesiese element wat vir hulle speel, is van nature sterk, sonder gimnasiumwerk.

“Hulle het `n unieke speelstyl en speel slim. Elke keer as hulle vorm verloor, kry hulle dit vinniger as elke ander span terug. As die spel afbreek, tel hulle net weer die patroon op.”

Hy beskou Ierland as die gunsteling vir die Sesnasiesreeks wat van 6/7 Februarie tot 21 Maart gespeel word, maar is versigtig vir Engeland.

Brian O’Driscol het 141 toetse gespeel (agt vir die Britse en Ierse Leeus) en hou die Sesnasiesrekord van 26 drieë. Hy het vier Triple Crowns, 2009 se Grand Slam en drie Heinekenbekers gewen. Met sy 46 drieë is hy die voorste driedrukker in Ierse rugby en die internasionale senter met die meeste punte en die agste grootste puntemaker in rugbygeskiedenis.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Ek sê dit nou al vir jare dat gym ‘n euwel is in sport. Gym is volgens my die groot oorsaak van al ons beserings en veral spier beserings. Die ”oudae” se oefening soos tyres aan die enkels vasmaak en dan hardloop, trappe op en af en dinge soos skaap dra het die regte spiere geoefen en die regte stamiena gegee. Dit kry jy nie in ‘n gym nie. Danie Gerber het ‘n paar jaar gelede op RSG sport min of meer dieselfde gesê maar niemand sal luister nie want soos in meeste werkplekke besluit die spelers mos deesdae wat gebeur. Oupa Victor het mos in sy voortydige boek gesê dit is te harde oefening en sien nie daarvoor kans nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.