Te veel groot oorwinnings in GB stel teleur

Tgoue bekere veel groot oorwinnings in die eerste ronde van die groepfase van die reeks om die Goue Beker (GB) Saterdag stel in `n mate teleur.

Nie minder nie as vier spanne in die agt westryde het met meer as 20 punte gewen, nadat dit verlede jaar eers in die vierde ronde – toe beserings reeds `n tol begin eis het – voorgekom het.

Verlede jaar se hele reeks, uitspeelwedstryde ingesluit, het slegs 13 seges met meer as 20 punte (en daar was enkele melkkoeispanne) opgelewer.

`n Mens kan maar net hoop dit dui nie op `n nuwe insinking in die gehalte van klubrugby nadat dit afgelope jaar of wat puik herstel het.

Moontlike redes vir die groot tellings sluit in dat nie al die deelnemers vanjaar hul bonde se kampioene is nie omdat die samestelling op 2015 se wenners geskoei is, en die lang tyd sonder wedstrydoefening wat tussen die afloop van die meeste ligas en die begin van die GB-reeks verloop het.

Eersgenoemde sal aanstaande jaar uitgeskakel wees wanneer die skuif van die begin van die seisoen na die einde daarvan verwerk is. Laasgenoemde sal moeilik ondervang kan word, omdat ruimte vir uitspeelwedstryde vir die oorblywende twee plekke in die reeks gelaat sal moet word.

Wat verblydend is, is dat die Zimbabwiese en Namibiese deelnemers getoon het dat hulle met die Suid-Afrikaanse deelnemers kan saampraat. Windhoek Wanderers (Namibië) se nederlaag met slegs twee punte teen Pirates (Goue Leeus) was waarskynlik die beste van die twee, al het Old Georgians (Zimbabwe) teen Witrivier (Pumas) gewen.

Nog `n verblydende aspek is Welkom Rovers (Griffons) se goeie sege oor Villagers Worcester (Boland), nadat hy verlede jaar in die eerste ronde 32-69 teen Despatch verloor het. Is dit dalk deel van die vrug wat vanjaar se mededingender Griffons-Luiperdsoorgrensliga gedra het?

Sishen se nederlaag van 17-44 aan die hand van Pretoria Polisie (Blou Bulle) is nogal `n skok nadat die Griekwakampioen verlede jaar hoogs mededingend was en geeneen van sy wedstryde met meer as ses punte verloor het nie. Mynsluitings onder ekonomiese druk het daartoe gelei dat die klub vanjaar van onderaf herbou moes word, maar hy het steeds sy liga gewen.

Polisie, die verdedigende Plaatkampioen, het op sy beurt vanjaar in die Carltonliga gesukkel en is in die halfeindstryd deur die uiteindelike kampioen, Centurion, uitgeskakel. Klublui glo egter die span het nie sy potensiaal verwesenlik nie, en hoop hy sal dit in die GB-reeks doen.

Daar is waarskynlik ook `n klompie stelskoppers wat sedert Saterdag hard aan hul skopwerk werk ná vertonings wat nie op dié vlak tuishoort nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.