Tekortkominge: wie se skuld is dit?

Malcom Marx – soos alle hakers moet hy ure aan sy ingooie wy. (Foto: GB Jordaan)

Dis nie te sê dat spelers reeds al die nodige vaardighede het wanneer hulle Springbokke word nie.

ʼn Mens sal dit verwag, maar dit is nie so nie.

Kollektief is die spelers se vaardighede baie, baie beter as in die verlede. Stutte kan die bal nou perfek aangee, vang en rondhardloop; agterspelers duik soos losvoorspelers in die losskrums in en spook om besit; en al 15 spelers kan die duiksakke laat les opsê.

Maar individueel? Soms word daar steeds tekort geskiet.

Daar was voorheen ook baie skrumskakels wat nie die bal behoorlik na die linker- of regterkant kon uitgee nie, soos Joost van der Westhuizen. Maar namate sy loopbaan gevorder het, hoe beter het hy geraak, want hy het ure en ure aan sy aangeewerk geskaaf.

Daar was hakers wat met hul ingooie in die lynstane gesukkel het. Uli Schmidt het voor en ná oefeninge op sy eie aan sy ingooie geoefen en geoefen totdat hy dit foutloos kon doen. Só ook die hakers van die 1995-Wêreldbekerspan Chris Rossouw en James Dalton, en sekerlik ook die ander hakers ná hulle.

Daar was skoppers wat nie altyd die kol getref het nie. Naas Botha, Louis Koen en Braam van Straaten was ure voor die ander spelers op die oefenveld en wanneer die oefeninge verby was, het hulle op hul eie voortgegaan. Dit was 30, 40 en 50 skoppe pale toe.

Dis hoekom hul slaagsyfer so hoog was, en dis hoekom hul name in die rekordboeke verewig is.

Toe Courtnall Skosan, Dillyn Leyds en Andries Coetzee die afgelope ruk verskeie kere onder die hoë bal rondgetas het, het ek teruggedink aan Chester Williams.

Williams was aan die begin van sy loopbaan ook onseker onder die hoë bal, selfs toe die Bokke begin saamtrek het vir die Wêreldbekertoernooi van 1995. Die destydse Springbokafrigter Kitch Christie het die Bokke se agterlynafrigter Gysie Pienaar opdrag gegee om dit reg te stel. Williams het boonop herstel van ʼn dyspierbesering en kon aan die begin nie aan die vaste oefeninge deelneem nie.

Pienaar, die plaasvervangerskrumskakel Johan Roux en Van der Westhuizen, en die span se skoppers het Williams ure lank met hangskoppe gepeper. Williams, wat natuurlike vaardighede gehad het, het baie vinnig verbeter en het een van die Bokke se veiligste opsies geword.

Nou is die vraag: oefen spelers nog op hul eie om verder te verbeter, of is die  meeste van ʼn span se voorbereiding net gefokus op die spelers wat die Saterdag uitdraf?

Ons weet nie, want die meeste spanne oefen nie meer in die openbaar nie, maar agter geslote deure.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Kollektief is die spelers se vaardighede baie beter as in die verlede? Lank -lank gelede in die dae van Dr Graven het die Maties toere onderneem ,glo dit of nie om die gehalte van rugby aan die Oos-Rand te verbeter.

So staan ek en ‘n kollega (wat op sy dag ‘n paar wedstryde op losskakel vir Noord Transvaal gespeel het) langs die veld en kyk hoe die Maties teen ‘n plaaslike klubspan speel.

En daar hanteer die Matieslotte die bal soos agterspelers en hardloop soos agterspelers en versprei die bal beter as enige Springboksenter vandag.Terug op kantoor vertel ons dit vir die baas,’n oud voorryman,wat toe sommer vir my kollega ‘n paar lesse in voorryskrumwerk gee.

Omdat ek toe nog ‘n groentjie was,wat net gematrikuleer het, het ek ‘n uitnodiging om deel te neem vinnig van die hand gewys.Wat ek wel van my skooldae onthou dat die breier altyd
‘n lat in sy hande gehad het en jou nader geroep het, as jy na sy mening nie voluit gehardloop het nie.
Vir straf moes jy dan in die voorry gaan druk om uit te vind hoe hard die voorries gewerk het vir die bal,wat jy so lekker veld af gesool het.Daarna het jy twee keer gedink voordat jy
dit weer doen.

Bantam ·

Die bedorwe brokkies kom uit n era van geen tug . Hulle moet proewe begin speel vir n plek in die span en slegs betaal word as hulle speel . Die manne verdien te veel !

Antjie ·

Ek ken net een, provinsiale speler, maar ja, daar word URE elke dag ook individueel geoefen. Ek vermoed egter afrigters is deur dekades se uitblinkers bederf, en fokus meer op individuele vryhede as op individuele punte wat groei benodig. Dis ook baie negatief vir motivering om so dikwels te verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.