Teleurstellende Cheetahs op randjie van uitspeelstryd

ʼn Enkele punt in hulle laaste twee ligawedstryde kan vir die Cheetahs ʼn uitspeelstryd in die Pro14 verseker; twee punte verseker dit.

Hulle het Saterdagaand in Bloemfontein teen ʼn moeë Cardiff Bluesspan met ʼn strafdrie lank ná speeltyd verstreke was met 29-27 deurgeskraap, maar het nie op hulle tuisveld heeltemal oortuig nie.

In ag genome dat die Blues kwalik ʼn dag voor die wedstryd eers in Bloemfontein aangekom het ná 50 uur se vliegdrama tussen Londen en die Vrystaatse hoofstad, was dit seker te wagte dat die Cheetahs teen die einde sterker sou eindig.

Die strafdrie vertel dat dit wel só was, maar eintlik het hulle in die tweede helfte tweede viool gespeel.

Die verdedigingstruktuur van die Vrystaatse span was aan die eina-kant met te veel beweegruimte wat aan Cardiff toegelaat is; hulle eie aanvalle het skerpheid kortgekom; en hulle het, soos so dikwels vanjaar, by die afbreekpunte tweede viool gespeel.

Dit was eintlik die ou-ou storie waar die Cheetahs byna ʼn wedstryd weggesmyt het wat hulle in die sakkie gehad het. Hulle was rustyd met 22-6 voor, maar goeie afbreekbesit en ʼn onvermoë om bresse te slaan het hulle gekortwiek. Hulle kon ʼn les geleer het by die besoekers wat hulle kanse deeglik gebruik het.

Die Blues het drie keer in die tweede helfte gaan druk. Hulle moet nou maar hoop Munster en die Kings hou die Cheetahs uit die derde plek met onwaarskynlike permutasies waarvolgens die Cheetahs twee ligapunte in die twee wedstryde sal moet bymekaarskraap.

♦  Swys Venter se span is nou nege punte voor die Blues op die punteleer en het ʼn yslike batige punteverskil vergeleke met die Walliesers.

Die Cheetahs kan selfs nog tweede eindig. Hulle is ses punter agter Munster, teen wie hulle aanstaande naweek speel. ʼn Sege daar én teen die Kings in  die baai, en ʼn neerlaag vir Munster teen Ulster in húlle laaste wedstryd, kan die Cheetahs selfs tweede in afdeling A laat eindig.

Puntemakers –

Cheetahs (22) 29: Drieë: Rabs Maxwane (2), Francois Venter, strafdrie. Doelskoppe: Niel Marais. Strafdoel: Marais.

Cardiff Blues (6) 27: Drieë: Owen Lane, Willis Halaholo, Rey Lee-Lo. Doelskoppe: Steven Shingler (3). Strafdoele: Gareth Anscombe (2).

Kings verloor teen Munster

Met CJ Stander en die twee Suid-Afrikaanse slotte Jean Kleyn en Gerbrandt Grobbelaar wat die vuur voorlangs aangesteek het, het die beter opsies, afronding en veral die speltempo van Munster in die tweede helfte, die stryd in George beslis.

Johann van Graan, wat die Ierse span afrig, was kort voor rustyd nog ʼn benoude kêrel, maar toe Munster gaan druk en met die telling op 13-15 omdraai en daarná wegtrek met ʼn skielike hoër speltempo, was dit nog ʼn neerlaag vir die Kings.

Hulle begin egter toenemend mededingend raak en kan die Cheetahs oor twee weke in albei se laaste ligawedstryd laat bontstaan.

Puntemakers –

Kings (15) 22: Drieë: Andisa Ntsila, Stephan Greeff, Michael Makase. Doelskoppe: Masixole Banda (2). Strafskop: Banda (1).

Munster (13) 39: Drieë: Niall Scannell, Calvin Nash, CJ Stander, Dan Goggin, Rhys Marshall, Dave Kilcoyne. Doelskoppe: Ian Keatley (3). Strafskop: Keatley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.