Theo van Rensburg was in dieselfde bootjie

Elliott Daly is verby Alex Cutbert vir sy drie (Foto telegraph.co.za)

Elliott Daly is verby Alex Cutbert vir sy drie (Foto telegraph.co.uk)

Die Walliese vleuel Alex Cuthbert sal die res van sy loopbaan die letsels van Saterdag se nederlaag in die Sesnasiestoets teen Engeland dra, net soos die heelagter Theo van Rensburg dit ook moes doen ná die 1990-Curriebeker-eindstryd tussen Noord-Transvaal en Natal op Loftus Versfeld.

Dit het voorheen ook met Cuthbert gebeur, in die Wêreldbekertoernooi van 2015 toe Fourie du Preez om hom geglip het om die Bokke se wendrie te druk. Die Bokke het met 23-19 geseëvier en Wallis uit die halfeindronde van die toernooi geboender.

Toe is hy ook verguis, van allerhande dinge beskuldig en wou hy padgee, sy tokse ophang, maar is hy omgepraat om aan te hou speel.

Die ironie is dat Cuthbert nie in Wallis se opdrafspan vir Saterdag se toets was nie, maar eers nadergetrek is nadat George North nie ʼn fiksheidstoets kon slaag nie.

Dit het baie goed vir 74 minute gegaan, want Wallis was voor en die ondersteuners het ‘Bread of Heaven’ uit volle bors gesing,

Dit wás soos manna uit die hemel.

Maar toe skop die Walliese senter Jonathan Davies (let wel, nie Cuthbert nie) nie die bal op sy eie  doellyn uit nie, maar eerder middelveld toe. Die Engelse het met ʼn teenaanval begin en Daly is verby Cuthbert om die wendrie te druk en aan Engeland die sege van 21-16 te gee.

“Dis alles jou skuld,” het dit op Cuthbert neergereën.

Van Rensburg was ʼn baie begaafde speler en reeds toe hy in 1984/’85 vir die Wes-Transvaalse Cravenweekspan gespeel het, was daar Springbok op sy voorkop geskryf.

Op Tukkies, waar hy regte geswot het, het sy loopbaan verder geblom en dit was net ʼn kwessie van tyd voordat hy vir Noord-Transvaal begin speel het.

Hy het linkervleuel in die eindstryd gespeel en alles het vlot verloop totdat Tony Watson diep in die tweede helfte verby hom is om Natal se wendrie te druk – om die besoekers (ná ʼn strafskop direk ná die drie aan Natal toegeken is toe Jannie Claassens op Watson geduik het) met 18-12 te laat wen.

Van Rensburg is verguis. Daar is gesê dat hy Watson oor die doellyn probeer stoot het, dat hy Natal se speler van die wedstryd was.

Van Rensburg het koers gekies Ellispark toe, waar hy vir Transvaal gespeel het en Springbok in 1992 geword het en sewe keer vir die Bokke gespeel het.

Hy was altyd ʼn jintelman en het net geglimlag as daar oor daardie dag gesels is en die kru behandeling wat hy nie verdien het nie, ontvang het.

Maar tog wonder jy wat deur sy gedagtes gemaal het toe Cuthbert Saterdag daar op die veld gelê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hanrick Swart ·

Pieter Kruger gaan kyk weer na daai drie, want dit klink of jy dit glad nie gesien het nie. Elliot Daly (ja, mens spel sy naam met een “t”) was al klaar verby Alex Cuthbert toe hy die bal gekry het. ‘n Baie goeie aangee (die aangee wen altyd die man) het gesorg dat Daly die bal kry met Cuthbert nie naby genoeg om hom te duik nie. Cuthbert het absoluut geen kans gehad om hom daar te duik nie. Die blaam vir hierdie drie moet eerder op Jonathan Davies geplaas word vir ‘n baie swak lynskop.

Pieter Kruger ·

Dankie vir jou kommentaar. Die idee van die berig was om na die kritiek te verwys waaronder hy nou deurloop (net soos in Theo se geval in 1990). Ek het die video weer drie keer bestudeer … hy het Daly te veel beweegruimte toegelaat; hy het hom kort voor die doellyn probeer plattrek, maar dit was te laat.
Hy word nou die sondaar gemaak, net soos Theo van Rensburg in 1990 … dis waaroor dit gaan.

Hanrick Swart ·

Dankie vir die verduideliking. Ek verstaan dat die artikel oor die kritiek gaan. Ek stem ongelukkig nie saam met jou dat hy hom te veel ruimte gelaat het nie. As Cuthbert wyer gestaan het sou hy ‘n gaping aan die binnekant van die verdedigingslyn gelaat het. Cuthbert moes die verdedigingslyn hou en hoop om die kantlyn te gebruik. Wallis se verdedigingslyn was egter reeds onder druk na die swak lynskop en die blaam moet dus op Jonathan Davies geplaas word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.