‘Thor’ gaan spiere vir Ulster bult

Duane Vermeulen se leierskap is van onskatbare waarde. Foto: GB Jordaan.

Duane Vermeulen, een van die sterkste leiers in Suid-Afrikaanse én internasionale rugby, sal die Blou Bulle vir Ulster in Ierland verlaat.

Die 35-jarige agtsteman sal hom in November by sy nuwe klub ná die Springbokke se Europese toetse aansluit. Nodeloos om te sê, is die Iere baie opgewonde hieroor; hierdie “Thor” kan immers rugbyspanne na nuwe hoogtes lei.

“Duane is ’n wonderlike speler, hy is die agtsteman van die verdedigende wêreldkampioenspan én die speler van die wedstryd in die eindstryd van die 2019-Wêreldbeker-toernooi. Sy ervaring sal ongetwyfeld van baie waarde wees,” het Dan McFarland (hoofafrigter) gesê.

Vermeulen het in sy tyd by die Bulle ’n gedugte eenheid met Jake White gevorm en die Pretorianers het in dié tydperk ’n rits trofees gewen.

Toe hy in Maart as SA Rugby se speler van die jaar aangewys is, het Mark Alexander (Saru-president) sy lof besing.

“Thor” word nie sommer gestuit nie. Foto: GB Jordaan.

“Dit was ’n baie moeilike seisoen, maar Duane was briljant; nie net wat sy eie vertoning op die veld betref nie, maar ook sy leierskap,” het Alexander gesê.

Vermeulen, wat ’n kontrak tot 2023 met Ulster onderteken het, het gesê dat hy aanklank by die Ierse klub se waardes en toekomsverwagting gevind het.

“Ek het juis daarom besluit om deel van die avontuur te word en ek kan nie wag om my beste vir die Ulster-familie te lewer nie.”

Die Bulle het op sosiale media hulde aan die hardebaard-agtsteman gebring.

“Duane, dankie vir al die herinneringe en klipharde duikslae. Dit was ’n voorreg om jou in die blou trui te sien speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

So gaan hulle almal weer weghardloop noudat die toernooie nie meer deur Covid gery word nie. Geen SA franchise kan hierdie kaliber spelers in die land hou nie.

Tubac ·

Beskerm sy salaris en toekoms. Wie weet of hulle nog gaan betaal word? Word geag as n goeie leier, maar andere ry op sy rug en loop met die krediet weg.

MakersMark ·

Vir al die wat so kerm oor die bulle net koop ….hul verkoop ook…. !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.