Tiaan laat Leeus teen Pumas brul

Tiaan Swanepoel (Foto: Steve Immelman/Facebook)

Die nuwe ster op die Leeus se horison het Saterdag in Mbombela (Nelspruit) weer helder geskyn toe die heelagter Tiaan Swanepoel sy span tot ʼn oorwinning van 33-25 oor die Pumas in ’n Curriebeker-wedstryd gestuur het.

Die Leeus was rustyd met 13-17 agter en kon ook nie ʼn bonuspuntdrie druk nie.

Hul uitgestelde wedstryd Woensdag op Loftus Versfeld teen die Bulle sal nou bepaal waar die Leeus op die CB-puntelys sal eindig en of hulle tuisveldvoordeel in die halfeindronde sal hê.

Swanepoel, 24, se verhaal lees soos ’n sprokie. Hy is in Namibië gebore, was op Stellenberg in die Wes-Kaap op skool en was twee jaar in die Maties se Varsitybeker-spanne voordat hy besluit het om ʼn rugbypaadjie in Australië te gaan uitkap waar hy in Sydney klubrugby gespeel het.

Maar waar hy twee werke moes doen (vir iemand wat nog nooit gewerk het nie) om die pot aan die kook te hou, was die oproep vroeg in 2020 om hom as ʼn beroepspeler by die Leeus aan te sluit, soos manna uit die hemel en gaan hy van krag tot krag.

Hy het Saterdag twee drieë gedruk en ook met vier strafdoele geslaag vir ’n persoonlike bydrae van 22 punte. Hy was gevaarlik op die aanval en het oral opgeduik, met sy lynskoppe ver en in die kol.

Hoeveel keer moet dié jongeling nog die toekenning as Speler van die Wedstryd ontvang voordat hy deur Jacques Nienaber en Rassie Erasmus raakgesien sal word, of is dit voortydig?

Wat die Leeus betref, is die strikvraag of hulle genoeg petrol in die tenk gaan hê om binne vier dae die Bulle te troef.

Ja, spelers soos Jaco Kriel en Willem Alberts is vroeg afgehaal, maar dit gaan groot durf, passie en waagmoed kos.

Agterlangs kan Swanepoel, Courtnal Skosan, Stean Pienaar en André Warner (soos teen die Pumas) die kitaar slaan, maar gaan die pak genoeg plofkrag hê?

Vir die Pumas was dit weer ’n hartseerverhaal van so naby en (weer) te ver.

Ai, ʼn mens se hart bloei vir hulle, want weer kon hulle nie die pas volhou nie

Punte:
Leeus 33 (13): Drieë: Jaco Visagie, Tiaan Swanepoel (2). Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoele: Swanepoel (4).
Pumas 25 (17): Drieë: Willie Engelbrecht, Simon Westraadt, Erich Cronjé. Doelskoppe: Ginter Smuts (2). Strafdoele: Smuts (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.