Tietjens se dae is getel

Gordon Tetjens (Foto horowhenua.kete.net.nz)

Gordon Tetjens (Foto horowhenua.kete.net.nz)

Daar is ʼn tyd vir enige rugbyspeler en -afrigter om te kom en te gaan.

Die All Blacks se sewesafrigter, Gordon Tietjens, het nou daardie kruispad bereik nadat die All Blacks deur Japan geskok is op die Olimpiese Spele en ook nie die halfeindronde kon haal nie.

Só sê Peter Thorburn, ʼn gewese afrigter van die Nieu-Seelandse sewesspan en keurder, en ek stem saam met hom.

Tietjens (60) het in sy 22 jaar as sewesafrigter byna alles bereik wat ʼn afrigter kan: 11 titels in Wêreldrugby se sewesreeks, vier goue medaljes by die Statebondspele, twee oorwinnings in Wêreldbekertoernooie in Argentinië en later in Rusland, tot ridder geslaan in 2012 en vereer in rugby se Heldesaal.

Nou word sy kop geëis, want die Nieu-Seelandse ondersteuners is briesend.

Ken ons nie daardie verhaal nie? Verlede jaar in Brighton het Japan die Bokke in die Wêreldbekertoernooi geskok en dit was die begin van die einde van Heyneke Meyer.

Een van Wallis se gesiene rugbyskrywers Anthony Woolford,  het ʼn jaar of wat gelede op Wales on Line ʼn  meningstuk oor die mees suksesvolle rugbyafrigters neergepen … en vier Suid-Afrinaners haal sy lysie van die top 30.

Volgens hom is Graham Henry voor in die koor, hoewel hy na 2007 se WB-toernooi byna gepos is nadat die All Blacks in die kwarteindstryd teen Frankryk verloor het. Henry het die Wêreldbeker in 2011 gewen en hy het die All Blacks tot 88 oorwinnings in 103 toetse afgerig.

Tweede is die Australiër Rod Macqueen, wat die WB-beker in 1999 gewen het, vier Bledisloebekers teen Nieu-Seeland verower het en die Britse en Ierse Leeus geklop het. Sy wenrekord was 81%.

Derde is Kitch Christie, 1995 se WB-wenner en 14 agtereenvolgende toetsoorwinnings.

Jake White (2007 se WB-wenner) is vyfde. Niemand kan die goue medalje van ʼn WB-toernooi  van White af wegneem nie, maar was hy andersins so suksesvol?

Nick Mallett (17 agtereenvolgende toetsoorwinnings) is 12de en Dok Danie Craven, wat die Bokke tussen 1949 en 1956 afgerig en in ʼn stadium tien toetse in ʼn ry gewen het, beklee die 18de plek.

Dis eintlik maar subjektief, want as jy die beste spelers in die wêreld het, behoort jy mos goed te vaar.

Dis hoekom Tietjens die einde van die pad bereik het. Daar kort vernuwing, ʼn vars briesie sal weer deur Nieu-Seeland se sewesrugby moet trek en Tietjens, ondanks sy ongelooflike vertoningslys, is nie meer die regte man daarvoor nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die span is deur beserings gery en al is ‘n afrigter hoe goed sal hy nie die verlangde resultate behaal nie.

Suid Afrika kon sonder Senatla nie Engeland in halfeind klop ( verloor 5-7) maar het talle kanse verbrou om te wen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.