Tjekboek is al wat tel, sê Skotse rugbybaas

Argieffoto

Argieffoto

Wat sê ʼn president van ʼn rugbyklub wanneer sy span met 172-0 slae kry?

“Dit was ʼn groot telling, maar ek is steeds baie trots op hulle,” het Murdo Fraser, president van die Fife-rugbyklub in Skotland gesê.

Volgens Fraser was sy span drie spelers kort vanweë beserings en ander verpligtinge vir sy kragmeting met Blairgowrie in die Skotse tweede liga.

Fraser het opnuut gemaan oor die gevare wat tjekboekrugby inhou.

Hy het aan die Daily Mirror gesê al waarin die spelers belang stel, is om vir meer geld te speel.

“Klubs op ons vlak verloor baie spelers wat na groter klubs met meer geld gelok word. Ons vind dit baie moeilik, maar sal nie die handdoek ingooi en die roete van tjekboekrugby volg nie.”

Die skeidsregter het genadiglik die eindfluitjie 20 minute vroeg geblaas, anders was dit ʼn nog groter slagting.

Fife het twee weke gelede met 107-0 teen Howe verloor en is in Desember met 99-0 geklop.

Die ironie is dat Fife vyf van sy 13 wedstryde dié seisoen gewen het, ʼn aanduiding dat die span tóg goed kan meeding as al sy spelers opdaag.

Pale Toe! het verlede jaar berig oor die Royal Kituro-klub in België wat sy wedstryd teen Soignies met 356-3 gewen het. Dit was die grootste telling nog in rugby en Kituro het 56 drieë gedruk, een elke 90 sekondes.

Die Bokke se grootste toetsoorwinning was toe hulle Uruguay met 134-3 in Oos-Londen geklop het. Tonderai Chavhanga het die dag ses drieë gedruk om Stefan Terblanche se toetsrekord van vyf (in 1999 teen Italië toe die Bokke met 101-0 gewen het) te laat spat.

Die Bok-afrigter Jake White het aanvanklik nie te veel te sê gehad nie en dit het gelyk asof hy by ʼn begrafnis was. Maar gaandeweg kon hy darem gesels oor (die bietjie) wat die Bokke uit die wedstryd kon put.

En Uruguay se afrigter … die man kon nie ʼn woord Engelse praat nie en die tolk nie veel meer nie.

Om te dink dat Jan Ellis jare lank die Bokke se rekord van sewe toetsdrieë (in 38 toetse) gehou het, laat ʼn mens opnuut besef hoe die spel, ten goede of ten kwade, verander het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.