Toe en nou: Hoe sou die huidige Bokke gevaar het?

Argieffoto (Foto: The Beijinger)

Elke generasie lewer sy kwota helde op, rugbylegendes soos Danie Craven, Frik du Preez, Naas Botha, Danie Gerber en Mannetjies Roux.

In tye soos dié word daar baie gewonder hoe hulle in die huidige omgewing sou vaar. Sou hulle groot, vinnig en sterk genoeg gewees het, sou hulle kon aanpas in die hedendaagse spel waar afrigters wedstrydplanne op die rekenaar vervolmaak en spelers soos robotte geprogrammeer word?

Ek glo dat Du Preez-hulle beslis die nodige vaardighede gehad het om enige aanpassing te kon maak.

Maar aangesien dit ʼn lekker speletjie is om appels met pere te vergelyk, wonder ek hoe hedendaagse spelers in die ou dae sou gevaar het.

Toe: Die meeste spelers was heeltyd werksaam. Daar was studente, onderwysers, mynwerkers, dokters, plaasboere, wynmakers, loodgieters, motorwerktuigkundiges, polisiemanne en dies meer. Baie spelers het die gaping op universiteit gebruik om “binne” tien jaar graad te behaal om rugby te speel as pappie se beursie genoeg kon bult.

Nou: Rugby is die spelers se enigste beroep en dis hoekom hulle skep waar hulle kan.

Toe: Van agente was daar nie sprake nie en die enigste agente wat ons geken het, was dié wat ʼn huis aan jou wou verkoop of verhuur het.

Nou: Agente is deel van die spel. Hulle is die spreekbuise van die spelers, onderhandel namens hulle om die beste kontrak te beding, want hoe groter die kontrak, hoe groter is sy fooi.

Toe: Spelers moes op eie stoom by oefeninge uitkom en soms het hulle van openbare vervoer gebruik gemaak. Daar word vertel dat Frans de Jager met sy motorfiets van Rustenburg af Pretoria toe vir oefeninge gery het. Henry Honiball moes sowat 170 km tussen hul plaas in Bergville na Pietermaritzburg vir oefensessies aflê.

Nou: Spelers word met motors, bakkies en vierwielaangedrewe voertuie geborg.

Toe: Spelers het so nou en dan ʼn dun koevertjie vir reis- en ander uitgawes gekry.

Nou: Spelers se enorme salarisse word maandeliks (behalwe as jy vir die Southern Kings of Boland speel) inbetaal.

Toe: Spelers se foto’s het op die voorblaaie van koerante en tydskrifte gepryk.

Nou: Beeldregte is nou ter sprake en spelers verdien jaarliks duisende rande vir wanneer hulle in advertensies verskyn of by geleenthede optree.

Toe: Spelers moes hul eie kleurbaadjies (ook eers ná ses of sewe wedstryde), oefenklere, tokse en rugbyballe koop. Die Britse Leeus van 1962 het byvoorbeeld elkeen ʼn sweetpak en ʼn paar stelle kouse vir ʼn toer van twee maande ontvang.

Nou: Alles word geborg.

Toe: Op spanfoto’s het daar net 15 spelers (dalk met ʼn reserwe of twee), die afrigter en spanbestuurder verskyn.

Nou: ʼn Wyehoeklens is nie groot genoeg om ʼn spanfoto met al die afrigters en ondersteuningspersoneel in te sluit nie.

 

Nou is die vraag, as Frik du Preez en Naas Botha vandag sou aangepas het, hoe sou die huidige Bokke in 1970 gevaar het?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.