Toe rugby nog lekker én daar nie hofsake was nie

Twee agstemanne: die All Black Murray Mexted en Bokkaptein Wynand Claassen het in die 1981-toesreeks teen mekaar gespeel, en Mexted het daarna in 1982 saam met Claassen vir Natal uitgedraf. (Foto: Wim van der Berg)

Om te dink in die oud dae het ʼn mens gespeel omdat rugby vir jou lekker was, jy lid van ʼn span was, ook van die groter rugbyfamilie. Na ʼn oorwinning is daar saam met teenstanders gekuier en moes jy hoor van die swak ref wat hulle verneuk het.

As jy verloor het, was die rugbystewel natuurlik aan die ander voet.

Net so het die besture en afrigters ook gebrom of gejubel en met mekaar die spot gedryf.

Dit was in die dae toe jy gespeel het omdat dit lekker was, en jy vriende gemaak het en na wedstryde, wen of verloor, huis toe is met gevoel van die lekkerte van ʼn rugbywedstryd agter jou.

Vandag is daar hofsake om te bepaal wie in die halfeind en eindstryd mag speel.

Dit was in die ou dae ook hard en ongenaakbaar, en onteenseglik was daar meer ongeoorloofde spel as vandag met die ou steelhoutjie hier en daar. Maar dit wat op die veld gebeur het, het (grootliks!) daar gebly.

Dit is hoekom ʼn man soos Adrie Geldenhuys, sterk en aggressief, sy vriende uit sy rugbydae nog het; hoekom Kevin de Klerk, een van die harde manne van sy tyd, Moaner van Heerden wat saam en teen Kevin gespeel het, tientalle All Blacks en Walliesers en Iere met mekaar en die Bokke wat hulle teenstanders was, pêlle gebly het.

Miskien is dit vandag nog so vir die veel minder spelers wat daar oor is met die baie klubs wat al toegemaak, saamgesmelt en sommer net na ʼn baie lae liga afgeskuif het oor geld en getalle (wat verband hou). Ek twyfel darem …

Ek onthou nog hoe Dok Craven voor ʼn vakansie gesê het: “Gaan speel by julle klubs.” Jy het nie nodig gehad om in jou tuisdorp of by ʼn klub in ʼn ander provinsie te gaan registreer nie. Jy kon rugby speel omdat dit lekker is.

Jy het van die Maties se soms nat velde vir Durban Collegians gaan uitdraf, in welke liga hulle jou ook wou hê of kon inpas. Jy het daar nuwe vriende gemaak, ná jou studies by die klub aangesluit en met die vreugde van die spel voortgegaan.

Dáárom, oor die lekker van rugby wat met geld verdwyn het, en oor rugby wat die afgelope weke in die Oos-Kaap weer in die hof ʼn draai gemaak het, is ʼn mens so hartseer. Hartseer omdat jou kinders en hulle kinders nie dieselfde vreugde kan ervaar nie.

Die Oos-Kaapse debakel is natuurlik nie nuut nie. Die afgelope tyd was klubs in van ons grootste unies ook in die hof oor die beweerde gebruik van ‘onwettige’ spelers – en in een geval omdat die geregistrerde speler, wat al jare in die liga speel, se foto nie op die spanlys was nie. Kleinlik? Oordeel maar self.

Wat jy jouself afvra: is dit die klub se bestuur met hul ‘eie ekke’, of is dit die spelers wat beswaar aanteken teen uitslae? Het die kameraderie en die etos van die spel heeltemal verdwyn?

Waar is die dae toe sowat 20 spanne by Oostelikes in Pretoria elke week in ʼn amptelike (sosiale) liga teen mekaar gespeel het? Dit was toe seker die grootste oop rugbyklub ter wêreld met sowat 28, 30 spanne as jy die liga- en sosiale spanne saamtel.

Oom Buurman

Selfs Oom Buurman van Zyl, legendariese afrigter van die Bulle in die 1970s toe hulle nog alles oorheers het, het daar afgerig en Reserwebank se span tot ʼn sterk eenheid gebrei.

Maar van Oom Buurman se manne (en ook van ander spanne) het na hulle wedstryd soms gaan uithelp as Tattersalls, Editum, Datsun, Brandweer of wie ook al ʼn speler of twee kort was. Twee wedstryde op een aand, en sekerlik nie so taai soos vandag nie, maar vir die lekkerte …

En só het meer en meer spelers vriende gemaak, met baie van die vriendskappe wat vandag na 35 jaar nog bestaan.

In die plek van hierdie ou rugbyvreugde het ons nou bitterheid oor neerlae en hofsake.

Die vraag is: hoe lank nog voor ʼn span hof toe gaan hardloop omdat ʼn skeidsregter vir die klub ʼn wedstryd en ʼn prysgeldjie gekos het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Dit laat my terug verlang na die dae toe ek ook rugby gespeel het. As ek vandag ‘n jong man was sou ek beslis nie gespeel het nie. Die spelers is groter en sterker. Ek het ophou speel toe die skrumskakels groter as ek begin speel het. Ek kan die “rugby onthale/partye ” onthou. Lekker gewees. Jy het dit vir die liefde van die spel gedoen. Ek was ‘n paar keer “man of the match” en dan kry jy ‘n bier of twee. Daar was net twee reëls, jy mag nie onkant speel nie en jy mag nie ‘n ou openlik slaan nie. Daardie dae was seks veilig en rugby gevaarlik. Dit is vandag andersom.

joker ·

Speel in die oggend vir skool en die middag vir die klub se 3 de of 4 de span.
Lekker tyd gewees.Beskerming by die ou ooms gekry op die veld.

Johann ·

Polisie teen Oostelikes op Loftus A op ‘n Woensdagmiddag.
Oorlede Hendri van Vuuren is die skeidsregter
At Oosthuizen slaan Flip Bredenhan dat jy net bloed sien. Hy word afgejaag.
Chain Lombard van Polisie neem wraak op ‘n Oostelike speler en kry ook die trekpas. Nou is dit oorlogop die veld.
Na die wedstryd wag At en Chain met biere in die tonnel en ons gaan kuier die hele aand saam by die ou Oostelike velde by die dieretuin. Alles is vergete …… tot die volgende wedstryd maar ook daarna word weer lekker gekuier.

Rudi Janse van Rensburg ·

Ek was betrokke by Barlow Noordelik se sosiale span in die laat 70’s en teen die manne van Tattersalls, Koedoespoort se boilermakers, Reserwe Bank,ens gespeel het. En ja dit was nie snaaks vir manne soos John Knox, Korrels Schoeman, ens om teen jou te speel nie. Die bloed het behoorlik geloop op die veld en die versterk water van die veld af, natuurlik saam met die verpligte braai. Aai dit was wragtag goeie jare daai. Soos die engelsmanne se “for the love of the game”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.