Toeskouers by Leeus-opwarmingswedstryd toegelaat

Foto: Marty Melville/AFP.

Die Britse en Ierse Leeus sal na verwagting voor 16 500 geesdriftige rugbyondersteuners speel wanneer hulle vóór hul toer na Suid-Afrika vir Japan in ’n opwarmingswedstryd op Murrayfield aanvat.

Oudergewoonte sal Covid-19-regulasies geld, maar dit is die eerste keer sedert Maart 2020 dat Skotse toeskouers regstreekse internasionale rugby in ’n stadion kan volg.

Ondersteuners wat reeds kaartjies vir die kragmeting op 26 Junie bekom het, word egter gevra om tuis te bly indien hulle enige Covid-19-simptome ontwikkel, terwyl maskers ook gedra moet word.

Indien die regulasies weer sou verander en minder toeskouers toegelaat word, sal die ongelukkige kaartjiehouers terugbetaal word wat nie die wedstryd mag bywoon nie.

“Dit sal ongelooflik wees om ’n passievolle en entoesiastiese skare op Murrayfield te sien voordat ons toer na Suid-Afrika begin,” het die Leeus se Ben Calveley gesê.

Prof. Jason Leitch, die Skotse regering se gesondheidskenner, het gesê dat die situasie deurgaans gemonitor word.

“Hoewel die toeskouers die wedstryd moet geniet, moet hulle nogtans die regulasies volg; die virus is steeds hier.”

Intussen hoop organiseerders dat ’n beperkte aantal toeskouers by die wedstryde in Suid-Afrika toegelaat sal word.

“Ons sien uit daarna om die rooi tapyt vir die Springbok-wêreldkampioenspan en die besoekende Britse en Ierse Leeus uit te rol,” het Dan Plato, Kaapstad se burgemeester, gesê nadat die Leeus se Kaapse draai bevestig is.

“Kapenaars is mal oor sport en het ’n groot liefde vir rugby. Hoewel ons die huidige beperkings op toeskouergetalle verstaan, hoop ons dat die minister van sport op streng voorwaardes ’n beperkte aantal toeskouers by die stadion sal toelaat.”

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, wil ook graag toeskouers by die wedstryde sien, maar tans word daar nog vir kragmetings agter geslote deure beplan.

“Indien die situasie sou verander, sal ons besluite neem op grond van die regulasies en beperkings wat geld,” het Roux gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.