Toeskouers wag twee uur vir Premierligastryd

Die toeskouers, die tuisspan en die blaser het Vrydag op Newcastle geduldig gewag op die afskop van ʼn wedstryd in die KwaZulu-Natalse Premierliga wat twee uur laat begin het.

Boschpick Newcastle Highlanders het die vorige Saterdag teen die Zululand Rhinos bloed geruik nadat hulle die eerste deel van die seisoen gesukkel het, en toe die Jaguars se bus van Durban af onklaar raak, was man en muis bereid om te wag, eerder as om die kans op nog ʼn sege op die veld prys te gee.

Newcastle het op die ou end met 36-31 gewen.

André Swanepoel, die Highlanders se hoofafrigter, sê die skeidsregter, wat van Richardsbaai af gereis het, verdien lof vir die feit dat hy toegelaat het dat die wedstryd wel gespeel word.

Swanepoel sê sy span het die wedstryd baie goed begin en binne 20 minute met 19-0 voorgeloop.

“Daar is drie pragtige drieë gedruk. Jaguars het self voor rustyd twee keer gaan druk, om met die omdraaislag slegs met 14-19 agter te loop.

“Die Highlanders was vasbeslote om die wedstryd te wen. Die span het die Jaguars, behalwe vir ʼn vriendskaplike wedstryd, vier kragmetings laas geklop, en drie jaar vir dié oorwinning gewag.”

Swanepoel sê die wedstryd het in die tweede helfte wipplank gery, en met sowat tien minute oor was Jaguars met 31-26 voor.

Goed geskop

“Die Highlanders het gaan druk en die doelskop was suksesvol om met 33-31 voor te loop. Sowat vyf minute voor die einde het Telly Ngobese (heelagter) – wat baie goed geskop het nadat Shane van Rooyen die oggend onttrek het – ʼn strafskop oorgeskop om Highlanders 36-31 te laat voorloop.

“Die Jaguars het in die laaste paar minute hard probeer, maar die Highlanders se verdediging was te goed, en toe hul een vleuel op die kwartlyn uitgeduik is, het die eindfluitjie geblaas,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Newcastle se vaste fasette was puik, en ʼn afdeling wat baie verbeter het, die ontvangs van afskoppe, was goed.

“Voorlangs het André Fourie (agsteman), wat kleinboet Ruan se skoene vol staan terwyl dié vir die Sharks se o.19-span diens doen, ʼn goeie wedstryd gehad, terwyl Adriaan Koorts (vaskopstut) seker sy heel beste rugby vir die klub gespeel het. Hy doen sy basiese werk uitmuntend.

“Voorts speel Mthoko Nkwanyane (haker) elke wedstryd ʼn barshou.”

Swanepoel sê Gift Mabaso (binnesenter) en Max Mkhize (buitesenter) speel weer soos die senterpaar van twee jaar gelede.

“Ferrari Hadebe (regtervleuel) beïndruk weekliks met sy ongelooflike vaart, en sy afronding is uitstekend. Hy het twee drieë gedruk, maar Bradley Swartbooi (losskakel) was ongetwyfeld die speler van die wedstryd.”

Allerbeste

Naas Hadebe se twee, het Fourie, Mlu Phakathi (flank) en Lewazi Mthembo (skrumskakel) vir Newcastle gaan druk. Ngobese het vier van die vyf verdoel en met ʼn strafdoel geslaag.

Swanepoel berig Highlanders II het sy sesde wedstryd op die ry af gewen deur Jaguars II met 33-7 te klop.

“Hier het Janri Barnard (losskakel) weereens agter uitgeblink, en hy is goed ondersteun deur Thembi Hlatswayo (buitesenter).

“Voorlangs het Junior Barnard sy allerbeste gegee, soos Shile Mbatha (flank), wat die speler van die wedstryd was, insgelyks gedoen het.”

Hy laat weet ook Highlanders III het die halfeindstryd van sy liga gewen deur sy buurspan, Mighty Buffaloes, met 34-25 te klop om Saterdag die eindstryd tuis te speel.

“Meldon Bezuidenhout (buitesenter) het baie goed vertoon.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.