Toets eis drie beserings en Bokke kry oorsese lof

Fourie du Preez en Bryan Habana (Foto: 3news.co.nz)

Fourie du Preez en Bryan Habana (Foto: 3news.co.nz)

Met Ruan Pienaar se kniebesering is dit so te sê seker dat die Springbokke ‘n tweede skrumskakel sal moet betrek vir die res van die Rugbykampioenskap.

Dit was nie al ongeval in die ‘Slag van Wellington’ nie en Ma’a Nonu het ‘n voorarm gebreek of gekraak. Daar heers ook twyfel oor François Louw se fiksheid nadat hy ‘n senuwee in sy bo-arm geïrriteer het. Hy moet ‘n skandering ondergaan.

Die Bokke het 10-14 verloor, maar kry ook lof vanuit Nieu-Seeland vir hul aandeel in Saterdag se skouspel.

“Geen wonder almal is lief vir ‘n toets teen die Springbokke nie – hulle is waaroor rugby gaan,” skryf Gregor Paul in The New Zealand Herald.

Hy sê die All Blacks moes dieper grawe as in enige ander toets vanjaar.

Oor Duane Vermeulen:

“Vermeulen het ‘n meesterklas gegee. Hy was pynlik en werklik briljant met die wyse waarop hy balbesit omgekeer en die tuisspan gesmoor het.”

Heyneke Meyer gaan ‘n probleem hê om Pienaar te vervang aangesien die land sonder Fourie du Preez bitter arm aan skrumskakels is. Warren Whiteley lyk na die vanselfsprekende plaasvervanger as Louw nie kan speel nie.

Die Bokke sal opnuut aandag moet gee aan die manier waarop hulle inskoppe speel – hul eie en dié van die opponente. Hulle het ook baie meer hanteerfoute as die All Blacks gemaak, al het hulle baie minder van die bal gesien.

En ai, as ons tog maar ‘n slot soos Brodie Retallick gehad het! Die manier waarop hy dikwels die bal as eerste ontvanger gekry het en sy groot aandeel in die aanvalle het weer die waarde van ‘n veelsydige en beweeglike slot onderstreep.

Bokke wil alles fisiek vermag

Dit is min slotte beskore en pas nie in by Etzebeth en Matfield se styl nie en skynbaar ook nie by Meyer se idees nie. En wat slotte betref, lyk dit in hierdie stadium nie of Lood de Jager deel van die groep gaan bly nie, en Damian de Allende waarskynlik ook nie. En goed soos wat hulle verdedig het, het die Bokke net nie skeppende senters in De Villiers en Serfontein nie, maar ook niemand beter nie . . .

Die Springbokke het ongelukkig die beeld dat hulle alles fisiek wil vermag en dat ons vaardighede benede peil is, wat ook beteken dat Meyer die spelers moet vind om die spel op die taktiese vlak te verbeter – iets waartoe Handré Pollard en Willie le Roux ‘n groot bydrae kan lewer.

‘n Skrale troos vir die Bokke is dat die Kiwi’s hul drie teen 14 man gedruk het terwyl Louw besig was om noodhulpaandag te kry. Reid het ‘n hoekskop bemeester en De Villiers het hom vasgehou. Habana het tot sy kaptein se hulp gesnel pleks van sy aandag te verskuif na die ondersteunende McCaw wat aan die opkom was vir die aangee wat tot sy drie in die hoek gelei het.

♦ Ten laaste: Daar word tande gekners oor skeidsregters en daar word selfs geëis dat die reëlboek stukkend geskeur moet word. Tog vreemd dat Jérôme Garcès Wellington se toets met dieselfde reëls meesterlik gehanteer het . . .

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bertus ·

Sjoe Org Potgieter maar jy is negatief. Ek wonder waarom jy enigsins die moeite doen om Springbok rugby te kyk? Probeer dalk ‘n “die glas is half-vol” uitkyk.

Hanno Visagie ·

“Die Springbokke het ongelukkig die beeld dat hulle alles fisiek wil vermag en dat hulle vaardighede benede peil is, wat ook beteken dat Meyer die spelers moet vind om die spel op die taktiese vlak te verbeter – iets waartoe Handré Pollard en Willie le Roux ‘n groot bydrae kan lewer.” – Baie waar.

Gerrit ·

Ons kort nou nog net nog ‘n spelskepper in die agterlyn wat goed kan verdedig ook. Persoonlik dink ek Juan de Jongh kan daardie rol vervul met Jan Serfontein wat as impakspeler van die bank af speel, maar waar ons ‘n beter aanvallende skrumskakel as Sarel Pretorius gaan kry weet ek regtig nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.