Toets: Kan weerlig twee keer dáár slaan?

Hoe is dit moontlik dat die wêreld se beste rugbyspan in ʼn hoek vasgekeer is?

Die All Blacks is die huidige Wêreldbeker-kampioen en die houer van die Rugbykampioenskap, die voorste span op Wêreldrugby se ranglys – ʼn span wat slegs tien keer in sy afgelope 116 toetswedstryde sedert 2010 slae gekry het – en hy speel op een van sy gunstelingvelde.

Tog, wanneer die All Blacks Saterdagmiddag op Loftus Versfeld uitdraf – waar hulle laas in 1970 verloor het toe die Springbokke hulle met 17-6 geklop het – het hulle alles om te verloor.

As hulle ʼn tweede keer teen die Springbokke verloor nadat hulle sowat drie weke gelede met 36-34 in Wellington geskok is, is hul momentum daarmee heen en is hul planne vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan omvergewerp.

Dis nogal ironies, al verloor die Bokke, is dit deel van die groeiproses (hoeveel jare sê ons nie dit al nie), om die boustene vir die WB-toernooi te lê.

Dis hoekom die nederlaag in Wellington soveel skade aan die All Blacks berokken het, só met die spelers se koppe gesmokkel het dat die Springbokke ʼn tweede wenkans móét hê.

Ja, dalk het die All Blacks nie die nodige agting aan die Bokke betoon nie, dalk het hulle die Bokke onderskat, dalk was hulle arrogant (hoewel hulle dit nooit sal erken nie), dalk het hulle voete van klei wanneer hul spelbrekers soos Aaron Smit, Beauden Barrett en Ben Smith onder druk geplaas word.

Kan weerlig twee keer op dieselfde plek slaan?

Kan dieselfde Springbokspan, wat slegs ʼn paar weke gelede teen ʼn swak Wallabies-span in Brisbane verloor het, en in Mendoza deur die Argentynse Poemas opgefrommel is, weer die All Blacks klop?

As dit suiwer oor statistieke gaan, oor spelpeil, vaardighede en diepte, behoort die All Blacks te wen.

Maar hoe gaan hulle reageer wanneer hulle tydens die haka deur die ondersteuners oordonder word; wanneer Barrett met sy eerste stelskop misluk of wanneer hulle hul eerste lynstaan verloor? Wat gaan gebeur as hulle in die skrums weggestoot word; deur Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Malcolm Marx en Francois Louw teruggeduik word? Of deur die Australiese skeidsregter Angus Gardner vasgevat word?

Wat sal gebeur as hulle agter die voordeellyn vasgevat word, tot foute gedwing word, verkeerde keuses begin uitvoer?

Gryp ons aan strooihalms of kán dit gebeur?

Die spanne –

Suid-Afrika

15 Willie le Roux, 14 Cheslin Kolbe, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Handré Pollard, 9 Faf de Klerk, 8 Francois Louw, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Beast Mtawarira, 18 Vincent Koch, 19 RG Snyman, 20 Sikhumbuzo Notshe, 21 Embrose Papier, 22 Elton Jantjies, 23 Damian Willemse.

Nieu-Seeland

15 Ben Smith, 14 Waisake Naholo, 13 Jack Goodhue, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Shannon Frizell, 5 Scott Barrett, 4 Sam Whitelock, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Karl Tu’inukuafe. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Tim Perry, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Patrick Tuipulotu, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Richie Mo’unga, 23 Ryan Crotty.

Skeidsregter: Angus Gardner (Australië).

Assistent-skeidsregters: Jérôme Garcès (Frankryk), Matthew Carley (Engeland).

TV-skeidsregter: Graham Hughes (Engeland).

Afskop: 17:05.

Verwagte weer: Mooiweer en warm.

Voorspelling: All Blacks met 12 punte (met die kop); Springbokke met 3 punte (met die hart).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

All Black ·

Die kanse dat die ou Bokkies weer die All Black kan klop is maar baie klein. Die Bokke moet eerder bekommer wees oor Japan wat hulle volgende jaar kan wen.

Johan ·

Nou ja dis seker ‘n kwessie van jou opinie my opinie. Ek weet nie regtig of die All Blacks se momentum daarmee heen sal wees as hulle weer teen die Bokke verloor nie? Dan is meeste indien nie al die ander rugbyspelende lande alreeds hul momentum kwyt vir volgende jaar se WB.

Nog ‘n verloor sal maar net bevestig dat die Bokke een van min spanne is wat die All Blacks op ‘n dag kan klop. En statisties is dit ook deesdae maar eintlik min. Maar die All Blacks weet dit reeds. Engeland en Ierland dalk kortkop daarna. Australie op huidige vorm het probleme. So ek dink die All Blacks is meestal maar lugtig vir die Bokke maar of dit hul voorbereiding sal beinvloed – dink darem nie so nie. Hulle is te professioneel en konsentreer op hul eie dinge.

What a joke! ·

Moenie jouself bekommer oor die All blacks nie Pieter want die keer met n vol sterkte span gaan hul hul nie terug hou nie hul is uit om n punt of 100 te bewys…Ek dink nie die bokke gaan kan hul man kan staan teen hul nie jammer maar daar sal nie sommer nog n glipsie wees soos laas keer nie…

Sparks ·

Bokke ga verloor onervare skeidsregter gaan hul die wedstryd kos

wolla ·

Ons kan hul weer klop. Dink ‘n bietjie terug aan verlede jaar toe ons daai verskriklike drag slae gekry het en toe twee weke daarna uiters ongelukkig was om op Nuweland te verloor met een punt nadat ons al die fasette van die spel oorheers het. Ons sal egter nie kan bekostig om balle in ‘n keelgate af te skop nie en meer balbesit moet kry om verlede jaar se Nuweland vertoning na te doen..

corne ·

Grootste klom twak ooit all blacks se planne in wielle gery en net n gegorrel. Anders as die kwota spanne van SA weet die mense hoe om ye speel waneer dit saakmaak

Nelia van Zyl ·

En as jou afrigter na halftyd dom besluite neem met sy plaasvervangers dan verloor ons die toets in die laaste minuut. Wat n teleurstelling.

SjN ·

Dit gebeur om te verloor deur politiek korrek te wil optree, shame Rassie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.