Toets vir Wêreldrugby wanneer Rassie verhoor word

Rassie Erasmus het die Springbokke tot hoër hoogtes geïnspireer. (AP Photo/Christophe Ena)

Wanneer Rassie Erasmus se tugverhoor Saterdag en Sondag aanlyn aangehoor word, sal daar ʼn skietstilstand wees. Wees egter verseker dat die skote ná die uitspraak sal klap.

Dit gaan ʼn toetssaak vir Wêreldrugby wees want, wat ook al die uitslag, daar sal wêreldwyd ontevredenheid wees, veral as daar nie duidelike riglyne vir die toekoms neergelê word nie.

Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van afrigting, word deur Wêreldrugby verhoor ná sy kritiek op die Australiese skeidsregter Nic Berry na afloop van die eerste toets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus. Die toerspan het dié wedstryd op 24 Julie in die Kaapstad-stadion met 22 – 17 gewen.

Erasmus is reeds in Augustus deur Wêreldrugby daarvan aangekla dat hy die spel in oneer gebring het en die saak sloer nou al byna drie maande lank.

Jacques Nienaber en Rassie Erasmus. (Foto: Twitter).

Erasmus is saam met die Bokke in Frankryk, waar hulle vir die komende jaareindtoer voorberei. Hy verskyn voor ʼn onafhanklike tugkomitee, onder die voorsitterskap van Christopher Quinlan, SC van Engeland, die Nieu-Seelander Nigel Hampton en regter Mike Mika, ʼn eertydse stut van Samoa wat 14 keer vir die Otago Highlanders Superrugby gespeel het.

Erasmus het ʼn video van langer as ʼn uur gemaak oor Berry se kleitrappery. Berry het in sy spelersloopbaan skrumskakel vir die Reds in die Superrugby-reeks en vir Racing92 in Frankryk en Wasps in Engeland gespeel voordat ʼn besering hom op 28-jarige ouderdom gedwing het om sy tokse vir die fluitjie te verruil. Berry hanteer Saterdagmiddag die toetswedstryd tussen Skotland en Tonga in Edinburg.

Erasmus het 26 foute wat Berry glo in die kragmeting begaan het, uitgewys.

Wêreldrugby het na wat verneem word Erasmus in 23 gevalle gelyk gegee, hoewel niemand dit nog amptelik bevestig het nie.

Die video is volgens Erasmus en sy prokureur, Frikkie Erasmus, nie deur hom uitgelek nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Politikus ·

Wat ookal by die verhoor gebeur Rassie, moet net nie die knie buig nie.

Harley Davidson ·

Hy weet van die kwota sisteem so hy ondersteun rasisme in sport.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.