Toetsrugby het jou hoendervel gegee

Toe toetsrugby nog hoendervel gegee het …

Wanneer jy jou eerste rugbytoets bywoon, is dit ʼn belewenis, ʼn geleentheid wat jy nooit sal vergeet nie.

Of só was dit, maar dalk nie meer nie, want daar is ʼn ooraanbod, televisie, dalk politiek, en omdat die Bokke soos elke ander voorste rugbyland, elke jaar 12 toetse speel.

Jare gelede was dit anders, want die Bokke het van 1939 tot 1949 in net vier toetse gespeel, tussen 1950 en 1959 net in 21 toetse, waarvan die helfte boonop oorsee was.

Van 1960 tot 1969 in 45 toetse, van 1970 tot 1979 in net 25, en van 1980 tot 1989 ʼn skrale 27 keer.

Die eerste toets op Loftus Versfeld is eers in 1955 gespeel, toe die Leeus die Bokke met 9-6 geklop het om die voortou 2-1 in die reeks te neem – en die Bokafrigter, Dok Craven, doodsdreigemente ontvang het…

Dit was in die dae toe daar nog tougestaan is vir kaartjies, vir staanplekke agter Loftus se noordelike en suidelike pale en as jy ʼn seisoenkaartjiehouer was, dalk vir vier sitplekke op die oostelike paviljoen of twee op die hoofpaviljoen.

As jy die toets op Ellispark bygewoon het, is daar baie keer met die trein gery, want op rugbydae het alle treine op Ellispark-stasie gestop.

Met toetse so skaars soos hoendertande, is daar soms tydelike hoenderstellasies opgerig om vir meer toeskouers plek te maak. Só was daar in 1955 ʼn allemintige 95 000 toeskouers vir die eerste toets teen die Bokke en Britse Leeus. Wat met die hekgeld gedoen is, weet ‘n mens nie, want die spelers het mos iets soos tien sjielings (R1) gekry.

Een van dié tydelike paviljoene, langs Loftus se ou hoofpaviljoen, het juis in 1969 met ernstige gevolge inmekaargestort toe honderde toeskouers ná ʼn wedstryd teen die Wallabies opgestaan het op pad huis toe.

Dit was in die dae toe jy vroeg by die stadion moes wees, want as ʼn paar oorgewig omies voor jou daar was, was jou klein genommerde sitplek op die lang houtbanke reeds beset – en vergeet maar van opskuif. Daar was altyd ʼn blaasorkes en die studentekonstabels van Hammanskraal het gewoonlik ʼn gimnastiekvertoning gelewer. Die Polisie se hondeskool het ook gewys hoe woef ʼn boef se reukie kry en hom dan van agter af inloop, plattrek en aan sy dik gepantserde arm knibbel.

Almal het opgestaan wanneer die destyde eerste minister of staatspresident by die veld aangekom het.

Ja, daar was ook ʼn voorval in 1967 toe ʼn paar toeskouers ʼn hoederhaan op Loftus vir ʼn rugbybal aangesien het.

Jou kospakkie was gepak met nartjies, wat jy op pad stadion toe gekoop het, biltong, grondboontjies, toebroodjies, blou gekookte eiers, frikkadelle en ʼn fles koffie.

Die hekke het reeds tienuur oopgemaak, daar was drie of vier voorwedstryde, en die hoofwedstryd het halfvier begin.

En om jou dag te maak, kon jy ná die tyd op die veld hardloop, dalk om jou held se handtekening te vra, of net om aan hom te raak.

Ai, hoe het dinge nie verander nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.