Toetsrugby op TV … wag maar tot later

Dit is nie net in Suid-Afrika waar die Springbokrugbytoetse nie regstreeks op nasionale televisie uitgesaai word nie.

Die koppe word ook in Nieu-Seeland gestamp of die All Blacks se toetse regstreeks (op nie-betaalde televisie) uitgesaai moet word. Die Nieu-Seelandse Rugbyunie en die televisiebase moet binnekort die kontrak vir die volgende 15 jaar vasknoop en dis hoekom daar wyd en syd geredekawel word.

Daar is verlede jaar selfs gepoog om wetgewing aan te pas om dit af te dwing, maar as jy nie ʼn intekenaar op Sky is nie, moet jy nou tot 90 minute ná ʼn toets wag om dit op Prime TV dop te hou, net soos in Suid-Afrika op die SABC.

Dit het my laat terugdink aan toeka se TV-deurbraakjare, nog lank voordat M-Net tot die mark toegetree het, toe regstreekse toetsrugby byna taboe op die SAUK was.

Ja, Dok Danie Craven het darem ingestem dat die eerste 10 of 20 minute (as ek reg kan onthou) van die toetse in 1980 tussen die Springbokke en Britse Leeus op die SAUK gewys word en die res van die toets eers heel later. Dis wanneer jy dadelik na Gerhard Viviers se radiokommentaar oorgeskakel het.

Dit was in die kinderskoen-dae van televisiesport, toe perdespring, rolbal, snoeker en perdewedrenne bobaas gevier het.

Hoekom? Want dit was baie maklik om dié sportsoorte met slegs die beperkte aantal kameras tot die SAUK se beskikking uit te saai.

Ons het Vrydagaande met groot afwagting gewag om te hoor wat die volgende middag uitgesaai sou word.

Daar het nie ‘n Saterdag verbygegaan sonder dat Robin Alexander ons opgewonde vertel het hoe Anneli Wucherpfennig, Gonda Beatrix en Peter Gotz op hul perde om die baan geseil en gespring het nie.

Dan is daar oorgeskakel na Retief Uys (die snoeker is altyd gedurende die week gespeel en was dus opgeneem) wat ons met ʼn fluisterstem vertel het hoe Pierre Mans en Manuel Francisco vaar.

Rolbal was destyds  koningskos op televisie, veral ná die wêreldtriomf van Doug Watson-hulle by die Dieretuinmeer in 1976. Tussendeur is daar na Martin Locke oorgeskakel vir die vierde, vyfde, sesde, sewende, agste en negende perdewedrenne op Turffontein, Greyville of Kenilworth en dan is een Curriebekerwedstryd regstreeks uitgesaai, met Jan Snyman, Pierre Marais, Chick Henderson, Kim Shippey, Trevor Quirk (dis nou te sê as hy nie krieket gespeel het nie) en ʼn jong Hugh Bladen wat agter die mikrofoon ingeskuif het.

Dit was in die dae toe kinders nog tol, pop, albaster en dryfinkies gespeel het, toe Oostelikes, Adelaar, Bobbies, Pretoria, Weermag en die Likkewane nog rugby gespeel het en Graeme Pollock, Mike Procter, Barry Richards en Clive Rice klubkrieket gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico ·

Pieter die 1976 toer van die All Blacks is net die 1ste en laaste 20 min. regstreeks gewys. Daarna is al die toetse wat on SA gespeel is tot 1995 regstreeks uitgesaai sover ek kan onthou. Ja ek onthou nog dat ons die eerste toets in 1976 by my broer in PE gaan kyk het want ons het toe nog nie ‘n TV in die huis gehad nie.

Nico K ·

Ja ons het nog die derde toets in 1976 die aand by ‘n restaurant gaan kyk. So 2 ure na die wedstryd. (Ons het ook nog nie TV gehad nie.) Ek verbeel my Curriebeker eindstryde is eers van 1979 regstreeks uitgesaai. En volle regstreekse uitsendings van ander wedstryde is eers in die 80’s begin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.