Toetsspan leen spelers by teenstander

stvincentKan dit werklik gebeur dat `n toetsspan amper die helfte van sy lede by sy teenstander moet leen?

Dis glo wat onlangs met die Karibiese span St Vincent en die Grenadine gebeur het toe hy in `n vriendskaplike wedstryd in die Noord-Amerika-streek teen St Lucia te staan gekom het.

Luidens berigte kon die besoekers slegs nege spelers bymekaarskraap om die wegbepaling na te kom.

`n Geldtekort en werkverpligtinge word as redes aangevoer.

St Lucia het op die ou end agt spelers aan St Vincent geleen sodat die wedstryd kon plaasvind.

Die tuisspan het die kragmeting met 48-19 gewen.

Na verwagting sal albei lande later vanjaar aan Rugby Amerikas Noord (RAN) se gewestelike kampioenskap deelneem.
Mexiko is die heersende kampioen.

♦ Jare gelede, toe rugby nog jonk was, was daar `n geval dat Ierland, ongeag die volledige span wat vertrek het, sonder twee spelers vir `n toets teen Engeland opgedaag het. Die span is aangevul met twee Iere wat in Londen gewoon, gewerk en rugby gespeel het.

Dit het later geblyk dat die twee drosters bloot die meevaller van `n gratis passaat oor die Ierse See aangegryp het om vir familie in Engeland te gaan kuier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.