Tóg ʼn WB-kans vir Duitsland se Suid-Afrikaners

Agt Suid-Afrikaners is ingesluit in die groep waaruit Duitsland se span vir sy uitspeelwedstryd teen Portugal, met die oog op deelname aan aantaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan, aangewys sal word. Nóg een is as reserwe benoem.

Die agttal is Sebastian Ferreira, Jaco Otto, Ayron Schramm, Jarrid Els, Raynor Parkinson, Marcel Coetzee (almal van Heidelberg-roeiklub), Nikolai Klewinghaus (Neuenhem) en Marcell Henn (Neckarsulm). Die reserwe is Winston Cameron-Dow (Frankfort).

Opvallend afwesig is die ervare slot Michael Poppmeier (35), wat Duitsland meermale aangevoer het, en die haker Dasch Barber (30), albei oudlede van die Kaapse klub Valsbaai.

Ferreira (losvoorspeler) het Superrugby vir die Kings gespeel. Els (agsteman) het Curriebekerrugby vir Grens gespeel. Schramm (agsteman) het vir die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker gespeel, Otto (flank) vir die Sharks se o.21-span en Coetzee (veelsydige agterspeler) vir die bond se o.19-span.

Parkinson (losskakel) het vir die Universiteit van Johannesburg en Henn (flank) vir die NWU Pukke gespeel. Klewinghaus (losskakel) is ʼn oudleerling van Hillcrest High School en Cameron-Dow (veelsydige agterspeler) van Durban High School.

Parkinson hou met 279 die Duitse rekord vir die meeste toetspunte, en Otto met 15 die rekord vir die meeste toetsdrieë.

Die Suid-Afrikaners se insluiting volg nadat die Duitse Rugbyunie (DRV) en die Vereniging vir die Bevordering van Rugbysport (GFR) hul haakplekke rakende die spelerskontrakte uitgestryk het.

Die gewese Tukkie, Kobus Potgieter, rig die span saam met Pablo Lemoine af. Lemoine het Uruguay in 48 toetse verteenwoordig, en dié land se nasionale span afgerig.

Duitsland was, met Potgieter as hoofafrigter en ʼn sterk kern spelers met Suid-Afrikaanse wortels, goed op pad om vir die WB-toernooi in aanmerking te kom, toe die DRV en die GFR haaks geraak het oor die feit dat die spelers deur laasgenoemde, ʼn instelling van die hoofborg, en nie deur die DRV nie gekontrakteer is.

ʼn Dooiepunt is bereik, Duitsland moes heeltemal ʼn nuwe span kies, en kon nie ʼn enkele wedstryd vanjaar in die WB-aanspraakstryd wen nie.

Met die skorsing van Roemenië, Spanje en België uit die reeks, omdat hulle onwettige spelers gebruik het, het Duitsland hom egter skielik in die Europese uitspeelstryd teen Portugal bevind.

Dit was blykbaar genoeg aansporing vir die DRV en die GFR om hul verskille uit die weg te ruim.

In watter mate die seisoen sonder toetsrugby die land se keurbende aanstaande Saterdag in Heidelberg kan kortwiek, sal die tyd leer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Buffel ·

Sal fantasties wees om ‘n land soos Duitsland in die rugby wereldbeker te sien. Moet net die sport meer intern bou sodat meer Duitsers (60 m bevolking) deelneem. Met die duitse deeglike en metodiese aanslag behoort hulle vinnig goed te doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.