Topdrie kan kwaai Curriebeker-aanslag verwag

Die voorste drie spanne in die Curriebekerreeks kan hulle maar vetsmeer vir ʼn kwaai aanslag in die komende weekronde van die reeks.

Al drie bly die gunstelinge om hul wedstryde te wen, maar daar is min kans dat hulle oorwinnings op ʼn skinkbord sal kry.

Op die oog af het die Goue Leeus seker die beste kans om te verras wanneer hulle Vrydag die voortmarsjerende Sharks in Durban die stryd aansê, maar sonder drie van hul ervare staatmakers sal hulle beswaarlik die knoop kan deurhak.

As die Johannesburgers enige plan het om te wen, sal hulle ook eers die Sharks se invloedryke skakelpaar moet hokslaan.

Die Vrystaatse Cheetahs het teen die Pumas getoon die bittereindergees van ouds is nog daar, en dat hulle – ná twee twyfelagtige vertonings – wel sonder hul beste stuk of 30 spelers medingend aan die Curriebekerreeks kan deelneem.

Hulle pak Griekwas Saterdag met dieselfde span in Kimberley, en weet hulle kan nie laat slap lê teen hul tradisionele derbyteenstander nie.

Die feit dat die tuisspan vyf voorspelers op die bank gekies het, laat dit lyk of hy iets anders as sy gewone hardlooprugby in die mou voer.

Vir die Blou Bulle is dit maak of breek wanneer hulle Sondag teen die Westelike Provinsie op Loftus Versfeld kragte meet.

Hulle moet wen as hulle hul kans om die kwarteindronde te haal lewend wil hou.

Dit lyk of daar stadig maar seker gevorder word met die heropbou van die span, en die aankweek van ʼn nuwe vloeiender spelpatroon, en hierdie kan die wedstryd wees om die naweek dop te hou.

Afskoptye –

Vrydag

19:15 Sharks teen Goue Leeus, Kingspark, Durban.

Saterdag

14:00 Griekwas teen Vrystaat Cheetahs, Griekwapark, Kimberley.

Sondag

14:30 Blou Bulle teen WP, Loftus Versfeld, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.