Topklubs slaags om legende te eer

Die Naka Bulle se puntemakers teen Centurion: Kefentse Mahlo, Anton Beswick, Ian van Deventer, Francois de Jonge, Jerome Bastick, Jean Grobler (agter) en Marcel Human en kaptein Sylvester Booysen (voor). (Foto: Johanna de Vos)

Twee topklubs raak slaags om ʼn legende te eer; ʼn provinsiale klubkampioen kry vroeg-vroeg slae; klubs verras in die Bulle se Carltonliga en die oorgrens Superliga; en ʼn Kaapse klub maak ʼn plan met die gewestelike waterskaarste.

Dis van die nuushoogtepunte vandeesweek op die Suid-Afrikaanse klubrugbytoneel.

Vereeniging (Valke) en die NWU Pukke (Luiperds) spring Saterdag op eersgenoemde se veld in ʼn kragmeting om die Piet Bosmanbeker aan mekaar.

Die beker is deur die Pukke geskenk vir ʼn jaarlikse kragmeting tussen dié twee klubs, die enigste waarvoor Bosman, wat verlede jaar oorlede is, in sy leeftyd gespeel het.

Bosman, wat Transvaal aangevoer (as stut) en vroeër vir Wes-Transvaal gespeel het (as flank), was ʼn legende in sy tyd.

Sy seun Koos is tans Vereeniging se voorsitter, en albei sy kleinseuns speel vir die klub.

♦ Vereeniging het Saterdag vir Raiders (Goue Leeus) in ʼn vriendskaplike wedstryd in Johannesburg, wat veral in die tweede helfte fel mededingend was, met 31-25 geklop (rustyd 19-5).

Raiders se tweede span het met 31-29 gewen, nadat Vereeniging rustyd met 17-14 voor was; en die besoekers se 0.21-span het uitstekend gespeel en met 34-0 gewen.

Bosman, die voorsitter, sê Vereeniging is tevrede met waar hy staan, maar besef harde werk lê nog voor voordat die Pererineliga op 7 April begin.

Hy merk op dat min klubs met so ʼn goed gemanierde skare as Raiders kan spog.

♦ Die KwaZulu-Natalse klubkampioen het vroeg-vroeg in die nuwe seisoen in ʼn voorbereidende reeks slae gekry.

Amanzimtoti het verras deur College Rovers met 12-8 in die Flya-uitklopreeks te klop. In nog ʼn wedstryd in die reeks het Durban Collegians vir Crusaders van Northwood met 54-19 oorskadu.

Collegians se tweede span het met 19-36 teen Varsity College I verloor; en Rovers se tweede het UKZN Impi I met 29-5 verslaan.

♦ Sowel die Blou Bulle se Carltonliga as die oorgrens Superliga wat deur die bond geadministreer word, het Saterdag verrassings opgelewer.

Eendersyds kom die Naka Bulle se Carlton-wegholsege van 55-3 oor Centurion as ʼn skok nadat die reeks die vorige seisoen vir uiters mededingende rugby gesorg het; andersyds toon Quins-Bobbies-rugby (QBR) se Superliga-oorwinning van 35-28 oor die Valke se East Rand United (ERU), en Rustenburg Impala s’n van 39-30 oor Springs dat van die Oos-Randse spanne hul man beter as wat dalk verwag is in die reeks kan staan.

Brakpan se reusenederlae teen die Naka Bulle (22-67) en die Tukkies vertel egter ʼn ander verhaal, veral die loesing van 0-97 teen die studente, waarvan die eerste span nog in die reeks om die Varsitybeker speel.

Colin Booysen, die spanbestuurder van ERU, laat weet QBR was gelukkig om die wedstryd tussen dié twee spanne te wen omdat elk van die spanne vier drieë gedruk het, maar die Pretorianers se stelskopwerk beter was.

Hy sê ERU se op en wakker vleuel, Jackie Jonkers, het ʼn uitstekende vertoning gelewer en QBR nagmerries met sy bedrieglike lopies besorg.

Puntemakers –

Naka Bulle – Drieë: Marcel Human, Frans Botha, Dylan van der Walt, Kefentse Mahlo, Ian van Deventer, Jerome Bastick, Francois de Jonge, Sylvester Booysen. Doelskoppe: Anton Beswick (4), Jean Grobler (2). Strafdoel: Anton Beswick.

Centurion – Strafdoel: Gaybrin Smith.

ERU – Drieë: Juan Botha (2), Jacky Jonkers en Leon Potgieter. Doelskop: Cameron Rooi. Strafdoele: Cameron Rooi (2).

♦  Hoewel die Kaapse droogte daartoe gelei het dat die Westelike Provinsie se ligarugby tot heelwat later uitgestel is, keer dit nie klubs om planne te maak om speelkans te kry nie.

Villagers het Saterdag Saldanhabaai toe gery om teen dié sterk Bolandse klub te speel en die louere met 19-19 gedeel.

Na berig word het Villagers die botoon gevoer, maar kon hy eenvoudig nie die knoop deurhak nie.

Die span van Brookside beplan ook vriendskaplike wedstryde teen die Goue Beker-kampioen, Valsbaai, en teen Unie-Milnerton.

Ander uitslae –

KZN

Onder 20A-liga (Frank Norrisbeker)

Middelland 17, College Rovers 10; Varsity College 65, South Coast Warriors 0; Durban Collegians 41, Crusaders 31.

Onder 20B-liga (Kingspark-uitdaagbeker)

Durban Collegians 66, Richardsbaai 5.

Noordelike Superliga

Tweede spanne

ERU 38, QBR 28.

Derde spanne

QBR 33, ERU 17.

Carltonliga Afdeling A2

Eerste spanne

Naka Bulle II 24, Centurion II 14; Tuine 24, Fezelas (UP) 21.

Tweede spanne

Naka Bulle III 38, Centurion III 0; Pumas (UP) 19, Tuine II 15.

Valke

Onder 21-liga

ERU 31, Brakpan 24.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.