Topstut Frans kry weer sy voorrykans

Frans Malherbe, die Stormers se Springbok-stut. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

John Dobson het spelers soos Wandisile Simelane, Salmaan Moerat en Lizo Gqboka tot sy beskikking vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Edinburgh op die DHL-stadion, terwyl Frans Malherbe ook weer sy gewig agter die Kapenaars se skrum sal gooi.

Malherbe, een van die topstutte in wêreldrugby, sal saam met Andre-Hugo Venter en Brok Harris die harde werk in die voorry-enjinkamer verrig.

Die 33-jarige speler het sedert die Wêreldbeker-eindstryd in Frankryk nog nie weer vir die Stormers uitgedraf nie nadat ʼn seer rug hom langs die kantlyn gehou het.

Oudergewoonte sal spelers soos Damian Willemse, Leolin Zas en Manie Libbok weer vir die vonk agterlangs wil sorg, met Moerat wat die kapteinskapleisels vashou.

“Dit is spesiaal om weer op ons tuisveld te wees. Ons het laas in Januarie hier gespeel,” het Dobson, die Stormers se hoofafrigter, gesê.

“Dit is baie belangrik om weer ʼn bietjie momentum op te bou; ons is nie waar ons wil wees op die punteleer nie. Die Loftus-nederlaag (teen die Bulls) het ons onder druk geplaas, maar ons was al vantevore in ʼn soortgelyke situasie en ons het daardeur gekom.”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie word op SuperSport uitgesaai.

Stormers: Damian Willemse (heelagter), Suleiman Hartzenberg (regtervleuel), Wandisile Simelane (buitesenter), Dan du Plessis (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Paul de Wet (skrumskakel), Evan Roos (agtsteman), Ben-Jason Dixon (flank), Nama Xaba (flank), Ruben van Heerden (slot), Salmaan Moerat (kaptein en slot), Frans Malherbe (stut), Andre-Hugo Venter (haker) en Brok Harris (stut). Plaasvervangers: Joseph Dweba, Lizo Gqoboka, Neethling Fouché, Connor Evans, Hacjivah Dayimani, Herschel Jantjies, Jurie Matthee en Ben Loader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.