Toulon se halfeind-sege maak Duane laat vir die Bokke

Duane Vermeulen (Foto: stormersrugby.com)

Duane Vermeulen sal nou beslis eers Maandag in die loop van die dag voor die eerste toets by die Springbokgroep aansluit.

Toulon, die Franse span wat hy aanvoer, het met sy vier Springbokke die klipharde halfeindstryd teen La Rochelle, met ʼn skepskop deur die jong plaasvervanger-losskakel Anthony Belleau ná die eindtoeter, met 18-15 gewen in ʼn wedstryd waarin die verdediging aan albei kante goed genoeg was om enige drie in die wedstryd te verhoed.

As die eindstryd op die Sondag 4 Junie teen Racing 92 of Clermont, die twee spanne in die ander halfeind, net so ongenaakbaar gaan wees soos Vrydagaand se kragmeting, gaan dit ʼn moeë Vermeulen wees wat minder as ses dae later in die toets op Loftus Versfeld sal moet uitdraf.

Daar sal maar gesien moet word of Allister Coetzee hom vir die eerste toets, in elk geval in die beginspan, sal inspan.

Benewens Vermeulen was Juan Smith, Juandre Kruger en Marcel van der Merwe die ander Springbokke in Toulon se span.

Daar was ook twee Suid-Afrikaners in die verloorspan. Ricky Januarie het as plaasvervanger-skrumskakel opgekom en Paul Jordaan, gewese Blitsbok en Sharkssenter, was in die verloorspan se middelveld ʼn yster op die verdediging.

La Rochelle was in dié taai wedstryd ʼn raps beter daaraan toe in die eerste helfte en het ná 50 minute met 15-6 voorgeloop. Toe is hulle senter Pierre Aguillon met ʼn rooi kaart afgestuur vir ʼn gevaarlike boorvat toe hy Toulon se James O’Connor kop eerste in die gras ingeboor het. Die rooi kaart was ʼn formaliteit.

Die verloorspan, wat in die Stade Velodrome voor 65 000 toeskouers moes vasbyt, het selfs met 14 man in die laaste halfuur nie ʼn drie afgestaan in die wedstryd waar min hardlooprugby gesien is nie.

Brock James, met vier strafdoele en ʼn skepdoel, het die verloorspan se punte aangeteken. Die Walliese heelagter Leigh Halfpenny het vier strafdoele en Anthony Belleau die wen-skepdoel aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Hy hoort in die 1ste plek nie in die span nie. Daar moet maar iets gebeur dat hy glad nie gaan kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.